Local newsNews

Hoofsweep Rapport Nr 100: Parkie-projek bring pret vir Midvaal se kleingoed

Komiteelede, sakelui en publiek span saam om park-apparaat op te gradeer

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit:
Wat ‘n ongelooflike voorreg om hierdie 100ste Hoofsweep Rapport saam te stel. Dit voel soos gister wat ons saam met MooiVaal Media besluit het om ‘n gereelde rubriek te skryf waarin plaaslike regeringsake aangespreek kan word en sekere wanpersepsies van munisipale doen en late opgeklaar kan word. Dit is ook ‘n heerlike platform om die Midvaal-munisipaliteit se planne aan te kondig en die gemeenskap deel te maak van die publieke deelnameproses. Ek wil graag hiermee my dank betuig aan Caxton, Vaalweekblad, Midvaal Ster Noord en die redaksiespan wat hierdie rubriek op so ‘n gereelde basis moontlik maak.

Gun my ook die geleentheid om al ons Midvaal-inwoners ‘n voorspoedige 2024 toe te wens. Hierdie gaan voorwaar ‘n grensverskuiwende jaar wees op alle regeringsvlakke. Selfs plaaslike regerings gaan geaffekteer word. Al is die opkomende verkiesing slegs provinsiaal en nasionaal, is die regering wat daar verkies word direk verantwoordelik vir die begrotings en projekte wat bekragtig word afwaarts na plaaslike vlak. Vergelyk graag die bestuur van die Wes-Kaap Provinsie en hoe munisipaliteite daar ondersteun word deur die Premier en sy ministers (MECs). Maar meer hieroor in ‘n latere rubriek.

Ek wil vandag graag rapporteer oor die projek van die Wyk 14 Wykskomitee met betrekking tot die speelapparaat vir die Vleipark in Pierneef Blvd in Meyerton. In Junie 2023 het een van die komiteelede, Carlett Badenhorst, genoem dat die Midvaal-munisipaliteit se begroting vir speelapparaat te klein is en dat Wyk 14 te ver onder aan die lys is vir parkie-opgraderings. Dit sou beteken dat Wyk 14, wat Golf Park, Uitbreidings 3, 4 en 6, asook ‘n gedeelte van die Meyerton dorp (Pierneef- tot by Holidaystrate) insluit, eers oor ‘n geruime tyd parkie-apparaat sou kry. Die vorige apparaat wat in die Vleipark was en deur Futuris Monitoring geskenk was 15 jaar gelede, was reeds “opgespeel” en moes verwyder word vir veiligheidsredes.

Carlet het voorgestel dat ons self inspring en fondse insamel om ons eie speelapparaat te begin oprig. Daar is besluit om ‘n gholfdag by Meyerton Gholfklub te hou en die gholfklub het behoorlik na die partytjie gekom. Voorsitter Tiaan Burger en gholfdirekteur Johan Lombaard het die wykskomitee met ope arms verwelkom en bygestaan en op 10 November 2023 het ongeveer 15 vierballe afgeslaan om hierdie goeie doel te ondersteun. Met Carlett se bestuursvaardighede, bygestaan deur Riette McKenzie van die wykskomitee, het ‘n paar Mulligans en gelukkige trekkings die pryse behoorlike laat skitter op die dag en borge soos Lamb Lounge se hele lam, Pietria Hardeware se gereedskap, Spur en On The Rox se eetbewyse, Model Bottelstoor, Chicago Gin, Makro Vanderbijl, Photos@Carlet, James Botsoere, Johan van Rooyen, Pick ’n Pay Golf Park, Nesa Power en ‘n lafenis deur die gewilde Swagga Breweries het die dag opgehelder. In die spelers se eie woorde was dit voorwaar ’n “besonderse lekker gholfdag” en ons maak gou wéér so om ons parkie uit te brei.

Alhoewel die winsgrens maar laag is vir so ‘n goedkoop en heerlike gholfdag, wat ook ‘n ete ingesluit het, kon ons ‘n wonderlike eerste “Budget Jungle Gym” oprig met die hulp van die vriendelike eienaars by Eco Plastics. Dit is egter net die eerste fase en ons wil graag aan alle persone en instansies wat belangstel om by te dra tot ons parkieprojek die uitnodiging rig om vir Carlett Badenhorst te kontak by 082 591 8523. Enige hulp sal opreg waardeer word en alle borge se name en/of logo sal op die park se naambord aangebring word. Eco Plastics het ook goedgunstiglik onderneem om vir elke bestelling van ‘n sekere bedrag, ‘n skenking van ‘n parkbankie aan die Vleipark te maak. Daarvoor is ons hulle innig dankbaar.

My droom vir parkies, die omheining van die vlei wat ons met wild kan vul en ‘n voetpad/fietspad in Pierneef Blvd wat omloop na die vlei in Erna Churchstraat het 15 jaar gelede begin toe ek ‘n groep kinders in die afgebrande veld sien piekniek hou het. Ek het uit my motor geklim en hulle gevra wat hulle wens was en ‘n paar jaar later het ons dit bewaarheid met die eerste speelapparaat in die Vleipark. Nou hernu ons daardie droom met nuwe herwinde plastiese speel apparaat wat omgewingsvriendelik en langdurig is.
ONS DOEN DIT ALLES TER WILLE VAN ONS KINDERS!
Trotse Midvaal groete
Ph!l

Dié helderkleurige nuwe speelapparaat verwelkom kleingoed nou in Meyerton se Vleipark. Hier beproef Zephan en Juvana van der Walt die nuwe apparaat terwyl Riëtte McKenzie, Carlett Badenhorst en Phil Pretorius toekyk.
Die wenners van die gholfdag, wat met die sak lamsvleis staan, is Christo Lombard en Faan Muller, saam met Carlett Badenhorst en Riette McKenzie.

Hier onder is nog foto’s wat wys dat dit voorwaar ‘n opwindende gholfdag met hope pryse vir die spelers was. Baie dankie aan al die deelnemers wat die insameling vir die nuwe speelapparaat in die Vleipark moontlik gemaak het!

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button