Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Die oggend toe die kantoor onder water was en ander dinge wat ons weet.
RUBRIEK. – Spanwek. Saamstaan. Dinge gebeur wanneer mense begin saamwerk. Dis nie altyd nodig om alleen ossewa te laai en ‘n rigting in te trek nie. By wyse van spreke.
Verlede Donderdag stop ek soos gewoonlik met baie haas en geen spoed effe laat by die kantoor. ‘n Man kom uit die gebou. Frons gevaarlik. “Pas op. Dis nat. Ek het my afspraak gekanselleer.”
Wou uitvra, maar toe is hy klaar vort. Ek benader die trap. Daar lê water in die voorportaal. Vanuit die dokters se spreekkamers hoor ek stemme. Hulle is gewoonlik baie stil.
Dan besef ek alles is nie pluis in MooiVaal Media se kantoor nie. Water net waar jy kyk. Oral is daar werkers en kollegas met moppe en besems in die hand
“En nou?” vra ek. Kyk eers dak se kant toe, maar besef dan inreën kon dit nie, dis ‘n tweeverdieping gebou.
Dis toe die vorige nag se storm. Die area het baie water in ‘n kort tydperk gekry uit geheel die verkeerde rigting. Stroom die water toe onder die spreekkamers se agterdeur oor die gang tot binne in ons kantore.
Ek het summier ‘n video geneem en op ons bakkiesblad geplaas. “Goeie spanwerk en nou is daai vloere baie skoon,” was die algemene terugvoer.
Dis die spanwerk-opmerkings wat my opgeval het, want dit was so waar. Almal het doodeenvoudig ingespring en gehelp, van water uitvee tot by koerante neersit en weer optel.
Teen 08:30 was alles terug na normaal. “Die spanwerk aktiwiteite was die lekkerste,” hoor ek ‘n week later by gr. 8’s wat op kamp was. Hulle het dinge saamgedoen, saam planne beraam, saam oorwin.
In my omswerwinge agter stories aan, hoor ek keer op keer hoe mense sê die gemeenskap het laer getrek rondom hulle na die ongeluk, tydens die siekte of wat ook al die krisis veroorsaak het.
Hoor ek stories van mense wat net uitdeel en gee, sonder om tweemaal te dink, net help. Want, daar is ‘n krisis. ‘n Mens sien dit nie elke dag nie en nie oral nie.
Dalk is dit die lug wat ons inasem of die Vaalrivier wat silwer blink, maar ten spyte van al ons klaagliedere oor swak (geen) munisipale diens, die gate in die pad, die besoedeling in die rivier en die kragprobleme, bly ons mense spesiaal.
Ja, ons kan stry en baklei. Ja, hier is nie altyd maanskyn en rose in die Vaaldriehoek nie, maar hier is mense wat omgee, vir mense, vir diere en vir die natuur.
En ons kan saamstaan wanneer dit moet. Baie mense wonder hoekom bly ons nog waar ons bly en doen wat ons doen.
Wel, soos wat Suid-Afrika se nuwe wêreld Ultimate Fighting Champion (UFC) kampioen, Dricus du Plessis sê: “Hulle weet nie wat ons weet nie.”
