Emfuleni bly in die … modder!
VANDERBIJLPARK. - Dit wil voorkom of dit ons voorland is as daar na die voorlegging van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se jaarverslag gekyk word, ter voorbereiding van die aansuiweringsbegroting. Lees meer oor rdl. Gerda Senekal se terugvoer oor die saak.
“Geen antwoorde kon verskaf word oor hoe Emfuleni sy uitstaande krediteure van R9 miljard gaan betaal nie. Emfuleni skuld Eskom R7 miljard en Randwater R1,7 miljard,” sê rdl. Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni.
Sy het verduidelik dat die munisipaliteit boonop nie sy afbetalingsooreenkoms met Eskom nakom het nie. Die munisipale skuldverligting wat nasionale tesourie verlede jaar ingestel het, kan hierdeur verbeur word.
“Nasionale tesourie het reeds ʼn sterk bewoorde brief aan Emfuleni gerig om sy sake in orde te kry om te vermy om vir die sesde keer agtereenvolgens ʼn onbefondsde begroting voor te lê met die aanvang van die nuwe finansiële jaar.
“Nasionale tesourie het ook gewaarsku dat indien die swak finansiële situasie voortduur, die munisipaliteit die gevaar loop om ontbind te word,” sê rdl. Senekal.
Emfuleni het in die 2023/24-finansiële jaar nog net 7% van sy nasionale infrastruktuurtoedeling bestee.
Dit kan glo daartoe lei dat die munisipaliteit minder fondse vir die volgende finansiële jaar kan ontvang.
“In die 2023/23-begroting is voorsiening gemaak vir ʼn 80%-invordering van debiteure, maar kon net daarin slaag om 56% van sy skuld invorder.
“Die munisipaliteit kon ook nie ʼn groot gedeelte van die begrote 90 000 water- en kragmeters by huise te installeer nie. Hierdie huise ontvang geen munisipale diensterekeninge nie en doen ook geen betaling nie,” verduidelik rdl. Senekal.
Die VF Plus is van mening dat daar geen onmiddellike uitweg is om die bankrot Emfuleni uit sy finansiële situasie te red nie.
“Die enigste oplossing is vir kiesers om met die komende verkiesing die ANC in Gauteng te onttroon en te vervang met ʼn verantwoordelike en bevoegde koalisieregering waarvan die VF Plus deel is,” sluit sy af.
