Midvaal ontvang tiende skoon oudit
Nog 'n skoon oudit vir die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit.
MEYERTON. – Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het pas sy tiende ongekwalifiseerde ouditmening vir die 2022/2023 finansiële jaar ontvang.
Die ouditeur generaal (OG) se verslag is op Maandag 29 Januarie tydens ‘n spesiale raadsvegadering bekend gemaak.
Die munisipaliteit se finansiële state, prestasiebestuur, interne beheermaatreëls en voldoeningsdoeltreffendheid is geoudit en die OG het bevestig dat die munisipaliteit geldige finansiële rekords verskaf het sonder wesenlike bevindings of wanvoorstellings.
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se Uitvoerende Burgemeester, Ald. Peter Teixeria, het in reaksie op die skoon oudit gesê: “Ons verwelkom die oudituitkoms vir die 2022/2023 finansiële jaar. Ons administrasie sal voortgaan om hard te werk en te verseker dat die skoon oudits wat ons ontvang vir inwoners tasbaar gemaak word in die vorm van dienslewering, die verbetering van infrastruktuur, investering in veiligheid, en die opheffing van Midvaal se mense.”
Teixeira het benadruk dat die skoon oudits niks beteken indien Midvaal se inwoners dit nie kan sien, voel en ervaar en die voordele van ‘n goed bestuurde munisipaliteit kan pluk nie.
Hy sê Midvaal se visie is om ‘n goed en effektief bestuurde, finansieel lewensvatbare en volhoubare organisasie te wees.
Die munisipaliteit werk daaraan om te verseker dat ons in die toekoms weer skoon oudits ontvang wat tot uitnemendheid in dienslewering sal lei. Ons proneer beleggings lok ten einde plaaslike ekonomiese groei te bevorder en geleenthede vir almal te skep,” het Teixeira in ‘n verklaring gesê.
Die munisipaliteit het benadruk dat hy sal voortgaan om in veiligheid en sekuriteit te belê om inwoners veilig te hou.”As ‘n munisipaliteit bly ons onwrikbaar in ons strewe na vooruitgang, ekonomiese groei en ‘n beter toekoms vir alle Midvaal-inwoners,” sê Teixeira.
