Emfuleni ‘een groot stortingsterrein’
Onwettige rommelstorting is aan die orde van die dag in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.
*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (26 Januarie) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
VEREENIGING. – Die sluiting van mini-stortingsterreine en stortingsterreine in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het daartoe bygedra dat die gebied “een groot onwettige stortingsterrein” geword het.
Dit hou nie alleenlik gesondheids- en omgewingsrisko’s in nie maar laat gemeenskappe in ‘n toestand van ewige verval en vuilheid.
Só meen Elize Aucamp, raadslid vir Wyk 45 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, wat die afgelope paar weke oorval is met klagtes oor die stand van sake by dié munisipaliteit en die probleem van onwettige rommelstorting wat toeneem.
Volgens Aucamp gaan inwoners van Sonlandpark veral gebuk onder die probleem wat deur Emfuleni geskep is.
Die ingang tot dié buurt lyk in besonder sleg vanweë die onwettige rommelstorting wat feitlik daagliks daar plaasvind, terwyl dit lyk of die munisipaliteit deurlopend deur die munisipaliteit ignorer word.
Aucamp sê: “Die munisipaliteit het ’n lisensie bekom om ’n stortingsterrein genaamd Yakani oop te maak, maar tot dusver het daar nog nie veel gebeur nie, aangesien die munisipaliteit nie geld het om opritte te bou nie. Daar is kommer dat die lisensie kan verval nog voordat ‘n nuwe stortingsterrein geopen is.”
Aucamp het benadruk dat hierdie dinge geprioritiseer en onmiddellik aangespreek moet word.
Sy sê voorts dat die provinsiale regering se besluit om die Sonlandparkstortingsterrein te sluit, verwoestende gevolge vir plaaslike ondernemings en huiseienaars in die gebied gehad het, aangesien geen werkbare oplossings of alternatiewe beskikbaar gestel is nie. Aucamp meen die Palm Springsstortingsterrein is té ver en té gevaarlik.
Dit is volgens haar waarom die ingang na Sonlandpark ‘n nuwe stortingsterrein geword het.
“Emfuleni het nie bywette of sekuriteit om te verhoed dat onwettige storting plaasvind nie. Ek het reeds verskeie kere met die burgemeesterskomiteelid vir afvalbestuur en publieke veiligheid gepraat en het self met die burgemeester en met inwoners vergader, maar al wat daarvan gekom het is leë beloftes,” vertel Aucamp.
* Navrae is aan Chuchi Radebe, ‘n woordvoerder vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gestuur. Radebe het op sy beurt navrae aan die betrokke departement gestuur. Vaalweekblad wag nog vir terugvoer van Emfuleni en sal hulle kommentaar plaas sodra ons dit ontvang.

