Herstelwerk aan Rietspruitbrug begin
VANDERBIJLPARK. - Dit is beslis goeie nuus vir Vaaloewer-inwoners. Die brug is in Februarie 2023 vir verkeer gesluit nadat oorstromings groot skade daaraan aangerig het.
Inwoners aan die westekant van Vaaloewer moes sedert die burg so erg beskadig was, ompaaie ry om Vanderbijlpark te bereik. Baie kinders wat daar woon, is op skool in Vanderbijlpark.
“Die VF Plus neem kennis en ondersteun die Gautengse departement van paaie en vervoer se besluit om volgende week te begin met herstelwerk aan die brug,” sê rdl. Sybrand Smith van die VF Plus in Emfuleni.

Volgens die departement sal dit sowat R5 miljoen kos om die brug te herstel, en sal die herstelwerk in Mei voltooi wees.
Die plaaslike gemeenskap het ná die oorstromings self ingespring om die pad na die laagwaterbrug wat in 1922 gebou is, vir verkeer gangbaar te maak.
Swaar voertuie kan egter nie die pad gebruik nie weens ʼn gewigsbeperking.
Die pad kon ook nie na swaar neerslae gebruik word nie, omdat die laagwaterbrug oorstroom.
ʼn Tweede alternatiewe roete na Vanderbijlpark was om die R59 na Sasolburg te volg, waarna ʼn aansluiting na Vanderbijlpark geneem kan word. Dit was egter ‘n ver ompad en beslis nie ekonomies nie.

