Local newsNewsNews

Ons eie Miss Grand SA finalis

Een van die Vaaldriehoek se jonge dames is 'n finalis in die Miss Grand SA kompetisie. Lees meer...

VEREENIGING. – Die Vaaldriehoek se Sherlain Holmes is onlangs aangewys as een van die finaliste in die Miss Grand SA 2024 kompetisie.

Hierdie is die tiende jaar wat die kompetisie gehou word en Sherlain sê sy is baie opgewonde om deel van die proses te wees.

Hierdie jaar se tema is om oorlog en geweld te stop. “Dit moet by kinders begin.

As ons laerskoolkinders kan leer om konflik reg te hanteer en mekaar te aanvaar, dan sal ons ‘n generasie grootmaak wat beter leiers eendag kan wees,” het sy verduidelik.

Sherlain Holmes sien uit na die reis as Miss Grand SA finalis.

As deel van die finaliste se werk op pad na die finaal, moet elkeen ‘n funksie of werkswinkel reël wat die oorhoofste tema aanspreek.

Sherlain beplan ‘n groot werkswinkel vir graad 6 en 7-leerders met betrekking tot konflikhantering.

“Die werkswinkel sal prakties, prettig en interaktief wees. Ek beplan dit vir 9 Maart by ons Family Fun Beach in Vereeniging,” beduie sy.

Haar hart is nou maar eenmaal by die jongspan en sy probeer om vir hul ‘n vertroueling en rolmodel te wees.

Nie net is sy jeugleier by die kerk nie, maar haar nuwe modelskool, Arise, maak ook eersdaags deure oop.

“Die lewe het my geleer om elke keer uit omstandighede op te staan, al verloop dinge nie volgens plan nie. Al voel dit of ek gefaal het, dit maak nie saak nie.

“Ek het geleer om nie op my drome op te gee nie en om altyd weer op te staan en aan te gaan.”

Dis hierdie boodskap wat sy ook aan die jongelinge wil oordra. Die wat boelie en die wat geboelie word, die wat swaarkry en die wat groot droom, maar nie weet hoe om hul drome vlerke te gee nie.

“Ek kan en wil ‘n verskil maak,” glimlag sy met oë wat blink. Om die Miss Grand SA-titel agter haar naam te skryf is maar een van haar baie drome.

Vir nou werk sy hard aan haar voorbereiding vir die eerste finaliste werkswinkel in Maart.

Om vir Sherlain te stem gaan volg haar op haar facebook @Sherlain Holmes vir meer inligting oor hoe die proses werk.

 
Back to top button