Local newsNewsNews

Graad 1 is haar avontuur en skool is nog lekker

Ontmoet Vaalweekblad se Great 2 be in Grade 1 wenner - Danel Jacobs. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Danel Jacobs hou van gesels. Sy is ‘n graad 1-leerder aan die Laerskool Eligwa en sê sy geniet skool sommer baie.

“Ons werk by die skool en kry huiswerk. Dis inkleurwerk en knip en plak. Toetse kom eers van graad twee af,” verduidelik sy.

Sy het die hele skoolding mooi onder die knie. “In graad sewe kan jy ‘n leier word.”

Die gedagte staan haar aan. Danel wil graag eendag ‘n leier in die skool wees. “Ons het al atletiek gehad. Ek was in die groen span,” beduie sy.

Die drie musketeers, Darius, Danel en Wian Jacobs. Haar nefies is soos boeties vir haar. Foto

Hardloop is nie haar sterkpunt nie, maar verlede jaar het sy hokkie, netbal en krieket gespeel. Krieket was vir haar die lekkerste, veral as sy die bal kon slaan.

“Hierdie jaar gaan ek net netbal speel, krieket is dalk bietjie gevaarlik,” reken sy. By die skool het sy al heelwat maats gemaak, maar haar gunsteling bly haar nefie, Darius Jacobs.

Die twee verskil net sewe ure en is soos vinkel en koljander. “Darius se boetie, Wian is twee. Hy speel saam met ons.”

Die band tussen die drie is duidelik, want toe daar foto’s geneem moet word, roep sy dadelik haar nefies nader.

Oor die Desembervakansie kan Danel nie uitgepraat raak nie. Hulle was in die Bosveld en het in ‘n houthuis gebly.

“Ek het ‘n tarentaal geskiet en my ma ‘n aandhaas (springhaas)”. Sy het ook die kans gehad om op ‘n vierwielmotorfiets (quad bike) te ry. “Maar nie alleen nie,” gee sy gou die versekering.

“Daar was ‘n swembad tussen die rotse,” vertel sy opgewonde en voeg by dat sy “baie, baie van swem hou.”

Andersins geniet sy dit om stories te kyk en met haar Barbies te speel. Sy brei uit oor haar familie, van haar niggies, waarvan een al ‘n kêrel het tot by haar hond, Krummel en twee budgies, Lienkie en Mienkie.

“En is daar nog iets om te vra?” wil sy weet, doodseker sy het nou meer as genoeg detail gegee.

Dis duidelik Laerskool Eligwa het nog ‘n sterretjie bygekry wat in die toekoms nog blink gaan skyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button