Dubbele SA-kampioen Gibbons in ‘n klas van sy eie
Suid-Afrika se internasionale fietsry-“rockster”, Ryan Gibbons, het Sondag die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskap in Midvaal-gewen.
MIDVAAL. – Gibbons, wat vir die Lidl-Trek-fietsryspan ry en in Girona in Spanje bly, het ook Vrydag die SA-tydtoetskampioenskap gewen.
Gibbons het tydens die padfietskampioenskap in die heuwelagtige Suikerbosrand-natuurreservaat vir Tristan Nortjé ingehaal en later vir hom weggery.
Nortjé, wat sterk gery het, het ‘n tweede plek behaal.
Morné van Niekerk, vanjaar se Gauteng-padfietskampioen wat in Frankryk vir die St. Michel–Mavic–Auber93 ry, moes tevrede wees met ‘n derde plek.
Hy het teen die einde hard probeer om vir Gibbons en Nortjé in te haal, maar het gesukkel in die hitte.
Carla Oberholzer het die elite wedren vir dames gewen nadat sy vir vanjaar se SA-tydtoetskampioen, Haley Preen, in ‘n naelrit in die laaste 100m uitgestof het.
S’Annara Grove het die derde plek behaal.




