Dapper stappers op ‘n Saterdagoggend
Mense het van heinde en verre bymekaargekom om aan die spesiale staptog deel te neem. Lees meer.
VANDERBIJLPARK. – Die MS-Warriors se 3 km pretloop 27 Januarie het almal se verwagtinge oortref.
Ongeveer 250 stappers en ‘n hele paar viervoetiges het Saterdagoggend by die Emerald Resort & Casino se parkeerarea aangetree.

Dit was ‘n bonte skare met oranje strikkies, haarlinte en T-hemde net waar jy kyk.
Die musiek het vrolik gespeel en almal het opgewonde sonskerms opgesit en waterbottels nader gehark.
Net na 07:00 het Rozaan Steyn, hooforganiseerder en self ‘n MS-lyer almal welkom geheet en bedankings gedoen.

Na ‘n minuut van stilte en ‘n openingsgebed het sy gesê: “MS is ‘n kondisie wat die immuunstelsel van die brein en die spinale koord aanval. Dis nie maklik nie. Ons stap ‘n baie uitdagende pad.
“Ons vra bid asseblief vir ons. Dis julle gebede en hulp en krag van Bo wat ons elke dag die krag gee om teen hierdie wrede siekte te kan baklei.”
Die pretloop van 3 km is georganiseer ter nagedagtenis van al die MS-Warrios wat onlangs weens die wrede siekte oorlede is.

Die viervoetiges in die skare het opgewonde saamgedraf. Luke Bennett het plek-plek agter op sy ouma Hettie Bennett (ook ‘n MS-lyer) se karretjie gery, terwyl Morné van Rooyen, met’n oranje strik om sy kop, sy ma, Heleen al die pad in haar rolstoel gestoot het.
Rozaan het die pad op haar elektriese bromponie, Rooi Ferrari, aangedurf met goeie Afrikaanse musiek wat vrolik vanuit die klanksisteem gespeel het.
Dis die positiwiteit en die goeie gees onder die MSlyers wat dadelik opval. Die groot glimlagte, die moedig voortgaan al het hul seer, al kan hul nie meer alles doen wat hul gedoen het nie.

Opgee sal hul nie en die band tussen hulle is voelbaar. Hul familie en vriende stap die pad saam met hulle en ook by hulle is opgee nie in die woordeskat nie.
Daar mag dalk nog nie ‘n kuur vir MS wees nie, maar tot die dag wat die mediese wetenskap ‘n deurbraak kan maak, gee hierdie MS Warriors van die Vaal hul alles, elke dag en met oorgawe om bewusmaking te skep en om ander te help.

Volg gerus Rozaan en die ander Warriors se paadjies op onder andere die facebookgroep MS Hoop en Gerrie Hadders se facebookblad S’Myelin Foundation.
