Local newsNewsNews

Inwoners haal nog 1 623 ton waterslaai uit Vaalrivier

Terwyl die regering steeds sloer om iets aan die probleem te doen, het AfriForum met ondersteuning uit die gemeenskap Saterdag wéér ingespring om die rivier te probeer red.

AfriForum het saam met verskeie ander organisasies, ondernemings en gemeenskapslede meer as 1 623 ton waterslaai uit die Vaalrivier verwyder.

Dít terwyl die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing steeds ná byna ’n maand nog niks aan dié indringerplant gedoen het nie.

Ongeveer 50 vrywilligers het met hul hande die plante uit die water geskep en meer as 15 bote en jetski’s het die waterslaai na vier verskillende uithaalpunte gestoot.

Sewe vragmotors het reggestaan om die waterslaai weg te ry en daar is elke uur vier vragte vol verwyder.

AfriForum se Sasolburg-tak in samewerking met Vaaldriehoek Diepsee Hengelklub het Saterdag waterslaai uit die Vaalrivier verwyder.

“Ons as gemeenskap is eintlik nou besig om werk te doen wat die regering se verantwoordelikheid is.

“Dit is vir ons duidelik dat die regering nie omgee vir ons skaarste hulpbron nie en eerder sal tyd bestee om vergaderings te hou as om daadwerklik iets aan die probleem te doen.

“Ons kan nie net in vergaderings sit terwyl die probleme daar buite vererger nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

Ondernemings en gemeenskapslede het al op 28 Januarie begin om waterslaai uit te haal – 70 ton is tóé verwyder.

“Ons sal aanhou met dié projek totdat ons rivier skoon is. Mense skenk fondse wat gebruik sal word om te kyk na volhoubare oplossings om die Vaalrivier te red.

“Dit help nie om die regering, wat reeds op verskeie vlakke misluk het, te vra om in te gryp voor ons ekostelsel verder beskadig word nie,” sê Grobbelaar.

Vrywilligers besig om waterslaai uit die rivier te verwyder.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, was dié aksie ’n uitstekende voorbeeld van die sukses wat behaal kan word en die verskil wat mense kan maak as hulle saam werk.

“Die gemeenskap stel vir ons ’n goeie voorbeeld van wat ons kan behaal as ons saamwerk. As dit nie vir die vinnige optrede en bereidwilligheid van die gemeenskap was nie, sou die rivier al baie erger gelyk het en kon dit maklik ontaard het in iets soortgelyk aan die hiasinte-krisis in die Hartbeespoortdam.”

Lede van die publiek, ondernemings en organisasies wat wil betrokke raak by dié projek kan ’n donasie maak wat sal help om hierdie projek te befonds.

Die besonderhede is as volg:

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 623 4989 8398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 261-550

Verwysing: Vaalrivier

Sewe vragmotors is gebruik om die waterslaai weg te ry.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button