Local newsNews

Moedige ma veg teen leukemie én blindheid

Leh-André het gedink haar voortdurende moegheid is weens griep of "lang Covid". En toe kom die skokdiagnose...

 

SASOLBURG. – Toe Leh-André Jansen van Vuuren (31) in April verlede jaar aanhoudend begin moeg voel en herhaaldelike infeksies kry, het sy gereken dis iets onskuldig soos griep. Sy het haar gebrek aan eetlus en slaperigheid ook toegeskryf aan “lang-Covid”. Min het sy geweet dat dit die voorspel was tot ‘n baie ernstiger diagnose: Aggressiewe leukemie.

Voordat Leh-André, die ma van twee seuntjies, geweet het wat haar makeer, het sy aanvanklik moedig met haar dagtaak as betaalrol-administrateur by ‘n Sasolburgse rekenmeesterspraktyk voortgegaan. In Junie het haar toestand onverwags dramaties versleg en sy is in die Sasolburgse hospitaal opgeneem, waar bloedtoetse bevind het dat sy leukemie het. Sy is oorgeplaas na die Kroonstad-hospitaal en van daar na Bloemfontein, waar daar dadelik met intensiewe chemoterapie begin is. Weens bloed wat agter haar oë opgebou het, het sy haar sig in een oog heeltemal verloor en net 20% visie in die ander oog oorgehou.

Leh-André en haar man Divan se gerieflike bestaan het die afgelope sewe maande behoorlik ingetuimel terwyl sy gereeld heen-en-weer vir behandelings tussen Bloemfontein en Sasolburg moes reis. Omdat sy al maande lank nie meer kan werk nie, ontvang sy nie meer ‘n salaris nie. Weens ‘n vertraging by die Werkloosheidsversekeringsfonds kry sy ook nog geen bystand uit dié oord nie. Ondanks ekstra oortyd-ure wat Divan as instandhoudingstoesighouer by ‘n onderneming in die Naledi-nywerheidspark insit, is hul geldsake so benard dat hulle reeds hul woonstel verloor het. Hulle woon nou by Leh-André se pa-hulle in Sasolburg, wat help met die versorging van die twee seuns terwyl Leh-André lang tye in hospitale moet deurbring.

Sy benodig dringend ‘n beenmurg-oorplanting, maar uit die sowat 10 miljoen potensiële skenkers wêreldwyd, is daar nog nie ‘n enkele geskikte kandidaat gevind nie. Intussen moet sy maandeliks vir bloedtoetse Bloemfontein toe gaan sodat die leukemie gemonitor kan word. Wanneer ‘n geskikte skenker wel gevind word, sal sy Kaap toe moet reis vir ‘n beenmurg-oorplanting by die Tygerberg-kankerhospitaal. Sy is tans in die Bloemfonteinse Nasionale Hospitaal waar spesialiste probeer vasstel of hulle die bloeding agter haar oë kan “uitwas” in ‘n poging om haar visie te verbeter.

Leh-André se kollegas, wat haar as ‘n “merkwaardige vrou, ma en werknemer” beskryf, het intussen met ‘n insamelingsveldtog begin om die gesin geldelik by te staan met hul reiskoste en algemene uitgawes.
Die fondsrekening word deur Thompson en Nienaber Rekenmeesters geadministreer. Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak, kan dit inbetaal by Standard Bank, rekeninghouer: L. Jansen van Vuuren, rekeningnommer: 022 113 169, takkode: 055 936, verwysing: Leh-André.

Leh-André het haar pragtige lang hare laat afskeer toe dit in bosse begin uitval het weens die chemoterapie.’Dit was baie traumaties vir die seuns toe ek my hare verloor het, maar hulle weet nou dat dit net tydelik is en sal teruggroei,’ sê sy
Mev. Leh-André Jansen van Vuuren van Sasolburg, wat nie net teen aggressiewe leukemie veg nie maar ook slegs 20% visie oorgehou het weens gevolge van die siekte. Hier kry sy ‘n soen van elk van haar seuns, Divandré (10) en Lorenzo (7)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button