Local newsNews

Amerika-droom verwoes na hand onder rolsaag beland

Hendrik het dringend hulp nodig om die oorblywende deel van sy hand te probeer red

VANDERBIJLPARK. – ‘n Jong man wat gehoop het om binnekort weer in Amerika te gaan geld verdien, se drome is aan skerwe nadat sy regterhand verlede week deur ‘n rolsaag vermink is.
Hendrik Swart (26) was Maandagoggend, 29 Januarie, omstreeks 07:00 besig met houtwerk by sy ouerhuis in Mullerstuine toe sy regterhand per ongeluk onder die saag beland het.

“Hy het na my man toe gestrompel met die hand wat aan flarde was maar kon nie onthou wat presies gebeur het nie,” sê sy ma, mev. Daulina Swart. Haar man, wat self ‘n paar jaar gelede sy been verloor het, en Hendrik het tot dusver tuinmeubels vir plaaslike gastehuise gemaak om ‘n inkomste te verdien.
“Ek het ten tyde van die voorval van die ander kinders skool toe geneem en was nie tuis nie. My man, wat gelukkig ondanks sy gestremdheid kan bestuur, het Hendrik dadelik na die Johan Heyns-kliniek geneem. Ek is later agterna met sy ID-boekie. Hendrik moes twee ure wag voordat ‘n dokter hom kon sien en hy per ambulans na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas is. Sy verminkte duim en pinkie het net aan velle gehang. Sy middelvinger is by die eerste kneukel afgesny en sy ringvinger by die onderste kneukel. Slegs sy wysvinger was ongedeerd. Daar is ook ‘n diep sny oor sy hele handpalm en al die senuwees is afgesny,” sê Daulina.

Danksy vinnige optrede van ‘n Weermagdokter is sy pinkie en duim dadelik onder plaaslike verdowing in Sebokeng se ongevalle-afdeling geamputeer en die sny oor sy handpalm is met steke geheg sodat hy nie verder uitbloei nie. Daulina sê dié vinnige behandeling was ‘n bedekte seën, want sedertdien het Hendrik nog min verdere behandeling ontvang.

“Hy het die middag van 14:00 tot die oggend 04:00 gewag op ‘n bed voordat hy opgeneem kon word. ‘n Dokter het hom die volgende dag gesien en gesê hy mag niks eet of drink nie omdat hy later die aand weer geopereer sou word, net om teen middernag te hoor dat die operasie afgestel is. Ongelukkig was die boodskap dag-na-dag dieselfde. Hy moes elke dag vanaf die middag niks eet of drink nie en kon geen pynstillers kry nie sodat hy gereed kon wees vir die aand se operasie. ‘n Week later is die operasie steeds nie uitgevoer nie. Sy verbande is nie gereeld verwyder en die wonde skoongemaak nie, met gevolg dat die verband in sy wonde begin vaskleef of vasgroei het. Die personeel het in ‘n stadium ‘n houertjie met Savlon by hom kom neersit met die opdrag om sy wonde self skoon te maak,” sê Daulina.

‘n Dokter wat hom verlede Donderdag weer ondersoek het, was glo geskok om te sien dat sy hand steeds nie aandag gekry het nie en het dadelik gereël dat hy Maandag, 5 Februarie, met ‘n bussie na die Chris Hani Baragwanath-Hospitaal geneem word. Daar moes hy egter hoor dat hulle niks vir hom kon doen nie en hy is onverrigter sake teruggestuur Sebokeng toe, waar hy steeds lê.
“Ons smeek vir hulp sodat Hendrik in ‘n privaathospitaal opgeneem kan word waar hy behoorlike behandeling kan kry voordat hy dalk sy hele hand verloor,” sê sy ma. Die gesin het buiten haar man se werkloosheidsversekering, geen ander vaste bron van inkomste nie.

Hendrik, ‘n oudleerling van die Hoërskool Transvalia, het na skool in Amerika en Kanada by dorpskarnavalle gaan werk om geld vir sy gesin te verdien. Hy het juis gewag vir goedkeuring om volgende jaar weer te kon gaan. Dié planne is egter nou permanent van die baan omdat mense met gestremdhede nie oorweeg word nie.
Enigiemand wat die gesin geldelik wil bystaan sodat hulle Hendrik na ‘n privaathospitaal kan laat oorplaas, is welkom om ‘n inbetaling te maak aan D.G. Swart, Standard Bank, Rekeningnommer: 10199126982 (Spaar), Vaal Mall-tak.

Hendrik Swart terwyl hy by karnavalle in die buiteland gewerk het om geld vir sy gesin te gaan verdien.
Hendrik se verbinde hand. Hy het slegs sy wysvinger oor.

WAARSKUWING: DIE FOTO’S VAN HENDRIK SE BESEERDE HAND HIER ONDER, KAN SENSITIEWE LESERS ONTSTEL. MOENIE VERDER AFROL AS JY NIE DIE FOTO’S WIL SIEN NIE.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hendrik se beseerde hand kort na die ongeluk
Hendrik se beseerde hand nadat sy duim en pinkie geamputeer en die sny oor sy handpalm toegewerk is.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button