Fietsryers stem saam – ‘dit was leka’
Fietsryers en hul ondersteuners het die Midvaal Fast One Cycle Race baie geniet. Lees meer...
MIDVAAL. – Die speke het gesing toe meer as 1 300 fietsryers vanaf 06:00 by die Midvaal Renbaan weggespring het vir die 27ste Midvaal Fast One Cycle Race wat 28 Januarie gehou is.
Dit was vroeg opstaan vir die fietsryers, maar die organiseerders en vrywilligers was reeds van 03:00 die oggend aan die gang.

Al hul harde werk het vrugte afgewerp en die dag is deur die fietsryers en hul ondersteuners geniet.
Die elite mansafdeling is gewen deur Kent Main in ‘n tyd van 2:20:05, met Ryan Gibbons en Blaine Kick in die tweede en derde plek.
In die vroue afdeling het Beverley Wingfield met die louere weggestap gevolg deur Cashandra Slingerland en Kirby van der Stelt.
Terwyl die fietsryers die 105 km of 50 km roete gevolg het, het ondersteuners onder koeltebome en by die kuierarea gewag.
Daar is kopstukke gesels en met groot afwagting selfone dopgehou vir enige nuus van hul mense op die pad.

Een van die oudste fietsryers op die dag was Theo Smith (80) van Benoni. André Vorster van Boksburg het hom by die eindpunt ingewag en was trots op Theo wat laas in 2017 deelgeneem het.
Die oudste fietsryer was Arthur Doyle (89) van Vereeniging. Hy mis nooit ‘n Fast One nie.

Die Fast One het weer eens bewys dat fietsry ‘n sport vir enige ouderdom is. Families het saamgery en dit baie geniet.
Die Barnards het al die pad van Barberton gekom en het gesê dit was hul eerste Fast One, maar beslis nie die laaste nie.
Michael Powell (14) van die Hoërskool Transvalia se ouers het breed geglimlag toe die jongman sy eerste Fast One 50 km klaargemaak het.
“Jy het ‘n gemiddeld van 25.76 km per uur gehandhaaf,” het sy pa Michael vir hom gesê.”
Michael jr. het vyfde in die o.17 seuns afdeling geëindig. Die fietswedren is georganiseer deur die Rotariërklub van Riverside en geborg deur die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit.

Raadslede Thembi Modiba (Gemeenskapsdienste) en Chantall Gomes (Korporatiewedienste) het die pryse oorhandig.
Hulle het hul hoop uitgespreek dat hierdie wedren weer tot sy volle reg sal kom en volgende jaar dubbel soveel ryers sal trek.
