Grappie oor Charlize Theron verwoes lewens
‘n Grappie oor Charlize Theron het in 2022 tot ‘n reeks gebeure gelei wat uiteindelik tot die steekmoord van 'n man in Pierneef Boulevard in Meyerton gelei het.

Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (2 Februarie) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
MEYERTON. – ‘n Man wat ‘n ander man in 2022 doodgesteek het nadat ‘n grappie oor die Suid-Afrikaans gebore Hollywood aktrise, Charlize Theron skynbaar verkeerd geïnterpreteer is, is Maandag 29 Januarie in die streekhof in Vereeniging skuldig bevind aan moord.
Die beskuldigde, Ettiene Daniel Coetzee, het op 26 November 2022 vir Adam van Wyk (36) in Pierneef-boulevard vermoor.
Vaalweekblad het in 2022 berig dat Van Wyk weens sy wonde beswyk het nadat hy deur Coetzee met ‘n skerp voorwerp in die bors gesteek is.
Coetzee, wat onskuldig gepleit het op die moord op Van Wyk, is ook op drie aanklagte van aanranding skuldig bevind.
Dit nadat hy die betrokke aand vir Johanna ‘Poppie’ Jansen van Vuuren, haar verloofde, Leonard Gleave, en hul seun, Brandon Gleave, met pepersproei gespuit het.
Die stryery het glo begin nadat die verdagte vroeër aanstoot geneem het oor ‘n grappie wat oor Charlize Theron gemaak is.
Jansen van Vuuren het vertel dat sy, haar man Leonard en hul kinders op die aand van die moord by Van Wyk en sy vrou Anja, gekuier het.
Jansen van Vuuren, haar seun Brandon, die oorledene se dogter, Sasha-Lee van Wyk en dié se niggie, Johanna Adriana van Vuuren, het omstreeks 18:00 vanaf die Van Wyks se woning na ‘n nabygeleë winkel langs Pierneef-boulevard in Kookrus gestap om ‘n koeldrank wat hulle vroeër gekoop het, te gaan omruil, nadat hulle die verkeerde geur gekoop het.
Jansen van Vuuren het in die winkel grappies met die kassiere oor die Oscarwenner van Suid-Afrika gemaak nadat sy (Charlize Theron) in ‘n onderhoud in 2022 Afrikaans as ‘n “sterwende taal” beskryf het en beweer het dat daar slegs “ongeveer 44 oor is wat steeds Afrikaans praat”.
Charlize se uitlatings het in daardie stadium hoofopskrifte in Suid-Afrika gemaak en was ‘n warm onderwerp van bespreking.
Jansen van Vuuren se grappie is glo in die gees wat dit bedoel is deur die kassiere ontvang en selfs ‘n sekuriteitswag by die deur het saam gelag.
Coetzee, wat in daardie stadium naby die winkel was en die grappie gehoor het, het skynbaar aanstoot geneem, aggressief geraak en vir Poppie-hulle allerhande dinge toegesnou – onder andere dat hulle “FW de Klerk-aanhangers” is.
Die situasie het verder handuit geruk toe Coetzee daarna kru en rassistiese uitlatings teenoor Jansen van Vuuren gemaak en daarna ‘n blikkie pepersproei uitgepluk het. Coetzee het vir Jansen van Vuuren en ander mense gespuit.
Brandon het sy ma bygestaan, waarna die meisies huis toe is om hulp te ontbied.
Van Wyk en Jansen van Vuuren se man, Leonard, het by die toneel opgedaag.
Kort daarna het Coetzee ‘n skerp voorwerp uitgepluk waarmee hy vir Van Wyk in die bors gesteek het. Van Wyk het ná die aanval aan sy beserings beswyk.
Streeklanddros Retha Willemse het die saak tot 13 Maart uitgestel vir vonnisverrigtinge en ‘n verslag van Korrektiewe Dienste wat nog uitstaande is.
Coetzee is steeds in aanhouding nadat hy in 2022 sy borgaansoek laat vaar het.
