Local newsNewsNews

Kunstige Fanie maak mure mooi

VANDERBIJLPARK. - As jy ‘n gewone muur in ‘n kunswerk wil omtower is Fanie Jacobs (30) die antwoord. Dié man weet hoe om ‘n muur mooi te maak.

Fanie was dalk nie uit die staanspoor ‘n gebore Valie nie, maar was darem ‘n Valie voordat hy kon loop.

Sy liefde vir kuns was al duidelik vandat hy sowat vyf jaar oud was.

“’n Oom het my gesien teken en vir my my eerste les gegee, om ‘n driedimensionlele koppie en piering te teken. Dit was my eerste skets en van daar af het ek elke dag iets geteken,” vertel Fanie.

Sy talent en liefde vir kuns het daartoe gelei dat hy as 12-jarige sketse teen betaling begin doen het.

Nou is Fanie reeds vir 18 jaar ‘n professionele kunstenaar.

Sy gunstelingmedium is realisme. Dit is om ‘n illusie te skep van driedimensionele realiteit op ‘n tweedimensionele oppervlak.

“Dis wonderlik hoe ‘n mens se brein ‘n plat oppervlak kan ontleed in 3D sonder om eers te probeer,” vertel Fanie.

Hy hou ook baie daarvan om karre te verf met ingeboude ligte om dit te laat lyk of die kar uit die muur gaan ry.

Hy het al soveel kuns op mure gedoen, dat dit vir hom moeilik is om ‘n gunsteling te kies.

Fanie verdien beslis 10 uit 10 vir dié kunswerk.

“Ek gee my beste met elke kunswerk. Ek sit inderwaarheid my hart en siel daarin. Ek wil hê mense moet nie net die kunswerk sien nie, maar amper kan voel,” sê Fanie.

Maar as hy moet kies, kies hy die karre op die muur by Gas Monkey of die portret van Cara Delevingne.

Die grootste kunswerk wat hy al gedoen het is die fluoresserende (gloeiende) muurskilderye by Lux Nightclub. Hy het tien ure per dag gewerk vir ‘n maand om dit te voltooi.

Fanie doen ook kunswerk op motorfietse.

Fanie werk ook nie net plaaslik nie, sy werk kan landwyd gevind word.

“Mosselbaai was beslis my gunsteling plek. Daar kon ek elke dag vir die see kyk terwyl ek live portraits geteken het op die strand,” sê Fanie.

Hy het ook murals in Kaapstad, Orania in die Noord-Kaap, Durban, Lephalale en Bloemfontein gedoen, om net ‘n paar te noem.

Hoewel sy kunswerke gesog is, is dit steeds bekostigbaar en boonop hou dit ten minste 50 jaar binnehuis en tussen 10 tot 12 jaar teen mure buite.

Fanie by nog een van sy voltooide kunswerke.

Hoewel sy lewe grotendeels om kuns draai, is hy ook ‘n kranige krieketspeler wat Saterdae aan die Sedibeng-krieketliga deelneem en op Sondae speel hy klubkrieket.

Weens sy besige lewe het hy nog nie die regte lewensmaat ontmoet nie, maar hy vertrou dat hy wel eendag “die een” sal ontmoet. “Soos hulle sê, my muse,” sê Fanie.

Belangstellendes kan sy Facebookblad (Jacobs art & design) besoek of WhatsApp hom by 076 814 0261.

Onder: Nog van Fanie Jacobs se kunswerke

Fanie voor die skets van model Cara Delevingne, een van sy gunsteling kunswerke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button