Saterdag gaan die grotes (hopelik) byt
Wie gaan almal Saterdag visvang by die heel eerste Fishing 4 Pets dag? Klik op die skakel vir aanwysings en meer besonderhede.
Die eerste groot Fishing 4 Pets dag vind Saterdag, 10 Februarie plaas langs die Vaaldam by Die Damwalle.
Dit gaan ʼn lekker pretdag wees vir die hele gesin, alles ten bate van die honde en katte weeskinders van die samelewing.
Daar gaan stalletjies wees wat o.a kos en koeldrank gaan verkoop, maar mense is welkom om hul eie kos en drinkgoed in te bring.
Hekke open al 06:00 en daar is ʼn toegangsfooi van R40 per persoon om by die gronde in te kom.
Om deel van die dag se pret te wees, kos twee blikke, pakke hondekos per persoon van enige grote.
Registreer by die IFM 102.2 Get up and Go Show Vriende wat Omgee en kry jou gelukkige nommer vir die dag.
Jy sal hulle sommer op ʼn afstand sien. Daarna kan jy jou penne gaan inslaan en die lyne in die water kry.
Johan van der Merwe, een van die organiseerders, sê daar sal gelukkige trekkings vir ʼn verskeidenheid van pryse deur die loop van die dag wees.
“Mense, kom kuier saam, vang lekker vis en ondersteun ons deur honde of katkos saam te bring. Hierdie is ʼn kuierdag en nie ʼn kompetisie nie.”
Die Vaal se Andries de Beer, wat altyd sy vrugte en groente al singende op sy fiets verkoop,sal die musiek en vermaak verskaf.
Kontak Johan van der Merwe 072 505 9780 of ohan Botes 084 866 6132 vir meer inligting. Waar is die Damwalle? 26°52’49.0″S 28°07’14.2″E of klik hier.