Ongunstige ouditverslag vir Emfuleni
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het 'n ongunstige ouditverslag ontvang.
EMFULENI. – Die ouditeur-generaal (OG) het ʼn gekwalifiseerde ouditverslag vir die 2022/23-finansiële jaar aan die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) toegeken.
Die Vryheidsfront Plus het in reasksie hierop gesê dit is betreurenswaardig, aangesien die munisipaliteit besig is om te vergaan.
Volgens die OG is die munisipaliteit se finansiële prestasie en kontantvloei in lyn met algemene aanvaarde rekeningkundige praktyke, die Munisipale Finansiële Bestuurswet en Inkomstewet.
Volgens Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, is die party bekommerd oor die ouditverslag siende tien van die twaalf departemente nie geskikte bewyse aan die OG kon voorlê oor werk wat gelewer is nie.
“Emfuleni se uitstaande skuld aan Eskom en Randwater is maar een voorbeeld van die munisipaliteit se onvermoë om die munisipaliteit suksesvol te bestuur. Die munisipaliteit se skuld aan Eskom en Randwater beloop gesamentlik R9 miljard.”
“Die munisipaliteit kan ook nie sy maandelikse skuldverligtingsooreenkoms met Nasionale Tesourie nakom rakende sy agterstallige skuld aan Eskom nie,” sê Senekal.
Volgens haar het Randwater in Maart verlede jaar beslag gelê op Emfuleni se lopende bankrekening. Die munisipaliteit kon sedertdien nie daarin slaag om sy skuld te delg nie en ondervind enorme diensleweringsprobleme.
“Terwyl die munisipaliteit spog met ʼn gekwalifiseerde ouditverslag gaan die munisipaliteit daagliks agteruit met riool wat steeds in strate afvloei en die Vaalrivier besoedel, gebrekkige vullisverwydering, vervalle infrastruktuur en munisipale werkers en raadslede wat nie seker is of hul aan die einde van elke maand ʼn salaris gaan ontvang nie,” sê Senekal.