Local newsNews

Skone Suhané reik na gesogte Miss Grand SA-titel

"Vir my gaan dit nooit oor die kroon of die titel wat jy kan wen nie, maar wel oor wat jy daarmee wil doen," sê sy.

VANDERBIJLPARK. – Die beeldskone Suhané Bosch is al lank bekend op Suid-Afrika se skoonheidstoneel en loopplanke, en nou is sy nog ‘n trappie nader daaraan om haar drome te verwesentlik. Sy het pas verneem dat sy ‘n finalis in die gesogte Miss Grand SA-wedstryd is.
Suhané is ‘n gebore Vaaldriehoeker en ook bekend vir haar betrokkenheid by vele ondersteunings- en hulpprojekte in haar plaaslike gemeenskap. Nadat sy in 2019 aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer het, het sy haar studies in Somatologie in Pretoria aangepak. Dit is dan ook hier waar sy in 2022 gegradueer het en haar loopbaan as ‘n aestetiese terapeut begin het.

Haar liefde, passie en omgee vir die mense en diere rondom haar is reeds wyd bekend. Suhané sê haar wete dat sy nog meer kan en wil doen, was beslis die dryfveer agter haar besluit om vir die hoogaangeskrewe, internasionale Miss Grand-kompetisie in te skryf.
“Vir my gaan dit nooit oor die kroon of die titel wat jy wen nie, maar wel oor wat jy daarmee doen,” sê sy. Van die groot titels wat sy reeds op haar kerfstok het, sluit onder andere in Miss Teen SA 2022, Mej. Tiener Gauteng, Mej. Elite SA en Miss Regal International (SA).

Geslagsgeweld is ‘n saak wat haar na aan die hart lê, daarom vind sy groot aanklank by die Miss Grand SA-organisasie wat voorspraak doen vir die beskerming van sulke slagoffers. Sy ondersteun hul slagspreuk ten volle: “Stop the war, stop the violence”.
Suhané het reeds hande gevat met People Opposing Woman Abuse (POWA), ‘n nie-winsgewende organisasie wat hulle veral beywer vir optrede teen geslagsgebaseerde geweld. Sy ondersteun POWA se missie heelhartig, naamlik die bewusmaking van huishoudelike geweld en misdaad teenoor Suid-Afrika se vroue en kinders.
“Verbreek die stilte… stop die geweld… laat jou stem gehoor word,” is die boodskap wat sy namens die slagoffers wil help uitdra.

Die sprankelende Suhané Bosch is nou ook ‘n finalis in die hoogaangeskrewe Miss Grand SA-kompetisie.

 
Back to top button