Boerbokke baljaar in dorp se sakesentrum!
Bokke in Sasolburg se Wandellaan kry weerstand én lof...
SASOLBURG. – “Kom ons slag die bokke en hou ‘n groot braai!” “Nee, los hulle. Dis die tuine-afdeling se nuwe instandhoudingspan!”
Dit was van die uiteenlopende kommentaar van lesers nadat ‘n foto van boerbokke wat ywerig in die blombakke in Sasolburg se Wandellaan wei, onlangs op Facebook geplaas is.
Stadsvaders wat die dorp se bekende Wandellaan meer as 50 jaar gelede fyn beplan en ontwikkel het, sou seker in hul grafte omdraai as hulle van die bokke in die middedorp moes weet.
Die Wandellaan is dekades terug volgens Europese standaarde ontwikkel om ‘n eiesoortige, gesellige atmosfeer aan Sasolburg se sakesentrum te verleen. Vir jare het die dorp met een van die mooiste, modernste sake-wandellane in die land gespog en keer-op-keer nasionale pryse verower.
Welige plante, spuitfonteintjies en veelkleurige blomme in die geboude planthouers het die skitterskoon wandelroete in die sentrum verfraai. Gesellige koffiewinkels het inkopiegangers om elke hoek en draai genooi om in die Wandellaan te kom uitspan en langer in die sakesentrum te vertoef. Vandag is min hiervan oor. Die eens pragtige plante is weg en die planthouers is nou oorgroei met gras en bossies. Beslis nie meer ‘n aanloklikheid vir die deursneë kliënt nie… maar wel vir ‘n trop van sowat 25 boerbokke wat die afgelope weke gereeld die plantbakke ingevaar en aan die gras en bossies kom weglê het.
DA-raadslid Jacques Barnard sê die bokke wei al ‘n tyd lank oral in die dorp rond. “Hulle het eers net tot by die tronk in Klasie Havengastraat gegaan, maar ek vermoed die voorbok het toe besluit om die dorp in te vaar. Hulle kom uit die township uit en gaan elke aand weer terug. Toe ons (die DA) aan bewind was, wou ons hulle laat skut, want sodoende sou ons die eienaar kon opspoor, maar ongelukkig het die Metsimaholo-munisipaliteit nie die nodige fasiliteite nie,” sê hy.
Hy het wel die bokke-kwessie onder die burgemeester se aandag gebring, waarna ‘n openbare kennisgewing uitgereik is. Daarin waarsku die munisipaliteit diere-eienaars dat vee wat sonder toesig in die dorpsgebied gevind word, gekonfiskeer sal word. Boonop is dit ‘n oortreding van die Dierebeskermingswet Nr. 71 van 1962, dus kan vee-eienaars krimineel aangekla word. Volgens raadslid Barnard is die bokke blykbaar nog nie weer in die blombakke gesien sedert die kennisgewing uitgereik is nie.
Hoewel sommige Facebook-lesers kwaai kritiek oor die bokke en die “verlaging van standaarde” uigespreek het, het meeste egter gevra dat daar sagkens met die vierpotige “helpers” van die tuine-afdeling gewerk moet word. “Minstens hou hulle die gras en bossies in die blombakke kort en netjies,” sê ‘n leser. Nog een spekuleer dat die bokke aan ‘n sangoma behoort en dat mens liewer nie met hulle moet sukkel nie. Nog ‘n leser klink ‘n glasie op die trop en sê kort en kragtig: “Go, Bokke!”



