Local newsNewsNews

Ek sê maar net: ‘Val in lief’ – wyse 8-jarige

RUBRIEK. - 'n Handvol graad 3's hou my besig en ek wonder te laat of hulle in die personeelkamer mag eet...

RUBRIEK. – Verlede week was ek op ‘n missie om die jongspan se kommentaar te kry oor belangrike sake soos hoekom moet mens skool toe gaan en wat dink hulle gebeur op Valentynsdag?

Vir die projek druk ek op Laerskool Kollegepark se knoppie en stiptelik om 10:00 Maandagoggend kom die groep graad 3’s die personeelkamer in.

Grootoog met kosblikke onder die arm. Dis amper pouse. Duidelik is hulle nie ingelig oor wie ek is of wat ek daar maak nie.

“Gaan dit soos ‘n toets wees?” vra een seuntjie bekommerd. “Nee, ek wil jul net afneem en ‘n vraag vra. Dis vir die koerant,” deel ek hul mee.

“Ah, die boekie aan die einde van die jaar,” besluit ‘n bruinkoppie wat heel voor sy sit gekry het. “Die nuusbrief,” beaam sy maatjie.

Die enetjie agter hom skud kop. “Nee man, die koerant. Die een wat in ons posbusse afgelewer word.”

Ek verduidelik dis vir die Vaalweekblad, die koerant wat hulle Vrydae kan koop. Hulle is tevrede. ‘n Paar lyk erg honger.

“Ek gaan met elkeen apart gesels, die res eet solank jul broodjies,” verklaar ek en wonder te laat of hulle ooit in die personeelkamer mag eet.

“Kan ons drink ook tannie?” vra een seuntjie, sy oë verlangend op die fles wat hy plegtig op die tafeltjie neergesit het.

“Solank jul nie mors nie,” seg ek en hoop maar die hoof vergewe my.

Dis duidelik dat Valentynsdag veral vir die manne ‘n ernstige saak is. Iedereen verduidelik van “dates” wat gevra moet word en geskenkies wat gekoop moet word.

Alles op hul ma’s se begrotings natuurlik. Die 8-jarige Dylan vertel my plegtig dat sy ma geen geld meer na sy groot “date” op die 14de gaan oorhê nie.

Die mannetjie het groot planne. Jongheer Pieter besef skielik hy moet nog die meisie vra en skraap summier die moed bymekaar om dit gou te doen. Gelukkig sê sy ja.

Die enigste een wat voel soos die meeste ander getroude manne is Darius. Ander mense vra mekaar op “dates” en “val in lief”, maar hy gaan beslis nie.

Die man het beter dinge om te doen, soos om sy broodjies klaar te eet, maar hy wou darem weet, “gaan ons regtig in die koerant kom tannie? Ek sal my ma moet sê.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button