MEYERTON. – Die noodreaksiespan CERT-SA is Sondagmiddag ontbied toe ‘n vrou by die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se brandweerstasie vir hulp gaan aanklop het terwyl sy besig was om te kraam.
“Die pasiënt was op pad na die hospitaal, maar het gevoel dat die geboorte van die baba besig was om plaas te vind. Sy het daarom na die plaaslike brandweerstasie gegaan vir bystand.”
“Ons nooddiensbeamptes het in samewerking met die brandweer toegesien dat die baba veilig gebore is. Die ma en haar kind is gestabiliseer en later deur Gautengse Mediese Nooddienste na ‘n plaaslike hospitaal geneem,” sê CERT-SA in ‘n verklaring.
CERT-SA het beamptes van die brandweer bedank, wat bo en behalwe hul alledaagse pligte gehelp het om geboorte aan die kind te skenk.

