Waldo (14) reeds ‘n gesoute model
Maak nader kennis met een van die Vaaldriehoek se modelsterre.
VEREENIGING. – Hy het so pas drie afdelings in die virtuele Stars of the Universe, gebaseer in Pole, gewen.
Dit is nog drie goue medaljes in Waldo Potgieter se arsenaal na amper ses jaar in die modelbedryf.

Waldo het in graad 3 vir sy ma, Monica, vertel hy wil inskryf vir die skool se Mnr. Monnie kompetisie.
Tot haar groot verbasing het hy gewen en een van sy pryse was om by Juanita Oosthuizen van Chantenique Afronding- en Sjarmeskool, modelklasse te kry.
Die gogga het hom daar gebyt en sedertdien gaan hierdie jongman met sy innemende glimlag van krag tot krag.
By Stars of the Universe het hy die kommersiële foto-afdeling, Face of Talent Africa en sy loopplank-afdeling met fiksheidsdrag gewen.
Hy het ook die Algehele Junior Model Platinum-toekenning verwerf nadat hy die hoogste punte in al die modelkategorieë gekry het.
Daarmee saam het hy ‘n 100% beurs verdien om deel te neem aan die XX International DIGI-FORM-ART Winter Contest 2024. Slegs genooides mag deelneem en daar is meer as 760 deelnemers van 34 lande in die kompetisie.
Die kompetisie vind in die week van 21 Februarie plaas met uitslae wat teen 29 Februarie verwag word.
Wanneer Waldo nie aan modelkompetisies deelneem, klasloop by die modelskool of modeleksamens skryf nie, is hy ‘n aktiewe graad 9-leerder aan die HS Overvaal.
Hier geniet hy dit om deel van die skoolkoor te wees en verteenwoordig hy ook die skool in die Roboticsspan. Sy gunsteling vak is digitale tegnologie en hy hoop om hom eendag as rekenaartegnikus te kwalifiseer.
