Ons weet wat ons weet!
Wat gebeur op Valentynsdag? Die jongelinge het elkeen hul eie idee oor die dag. Lees meer...
14 Februarie is tradisioneel Valentynsdag. ‘n Tyd vir romanse, sjokolade, blomme en manne wat dink dis net ‘n geldmaakstorie.
Wat gebeur op Valentynsdag? Laerskool Kollegepark se jongelinge het die volgende antwoorde gehad:

Ivanke Nelle (8) “Ons gee mekaar kaartjies, omdat ons vir mekaar omgee.”
Pieter Michau (9) “Op Valentynsdag bederf jy ‘n meisie. My ma het gesê ons gaan vir haar roompies en sweeties koop. Wag, ek gaan vra haar gou of sy my meisie is.”

Dylan Ackerman (8) “Mense val in liefde en dan vra hulle iemand op ‘n date. Ek het ‘n date vir Valentynsdag. Ons gaan Spur toe en na die tyd gaan my ma broke wees.”

Darius Klopper (8) “Hulle vra mekaar uit op ‘n date,” reken hy en skud dan sy kop ernstig. Hy het nie ‘n date nie en nee, hy is ook nie van plan om iemand te vra nie.

Sandra Mostert (9) “Jy gee vir iemand geskenkies. My pa gee my ma altyd tjoklits en blomme.”

Aiden Diedericks (8) “Ek gee vir meisies briefies en tjoklits omdat ek van hulle hou. Ek het twee meisies, die een is in graad 6 en die ander een in graad 3.”

