Harry gaan groot met 3de enkelsnit
Gaan kyk na Harry Broersma en sy Déjà Vu band se nuwe enkelsnit, Rof. Klik op die skakel.
VANDERBIJLPARK. – Vrydag, 16 Februarie stel Harry Broersma sy derde enkelsnit, Rof bekend. Die musiekvideo word terselfdertyd geloods.
“Hierdie keer word dit onder die band se naam, Déjà Vu uitgereik,” vertel hy opgewonde.
Die klankopname en video is verlede jaar in die Kaap opgeneem met Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties wat die produksie behartig het.
Harry sê die melodie vir Rof het onder sy vingers begin rigting vind toe hy eendag gesit en kitaar speel het. Mettertyd het die woorde ook hul plek gevind.
“Rof gaan oor baie dinge tegelyk. Dis nie ‘n liefdesliedjie nie. Ek het dit geskryf tydens ‘n tussenin fase in my lewe, toe dit gevoel het asof alles uitmekaar val.
“Dit gaan oor die feit dat mens nederig moet bly, maar ook moet onthou om nie altyd alles in jou eie kop te glo nie. Mental health is belangrik,” gesels hy ernstig.
Déjà Vu het verlede jaar heelwat optredes gehad en was deel van die matriekbootreis in 2023. Hierdie jaar is hul reeds geboek vir onder andere die Melkfees in Pretoria.
Vir eers is die fokus op die nuwe enkelsnit en hoop Harry dat dit ver en wyd gespeel sal word.
Hy het reeds ‘n onderhoud met ‘n Nederlandse radiostasie gehad, wat ook sy vorige enkelsnit Tydelik gereeld laat hoor het. Harry het sy eerste enkelsnit, Liefde Soos Dit in 2021 vrygestel en dit opgevolg met Tydelik in 2022.
Intussen het sy internskap jaar as apteker gekom en gegaan en vandag is hy volwaardige apteker by ‘n plaaslike hospitaalapteek.
Vir hierdie jaar beplan die band ten minste nog drie enkelsnitvrystellings. “Dis ons passie, maar dis ook ‘n duur speletjie. Mense het geen idee hoeveel harde werk, tyd en geld dit neem om uiteindelik ‘n professioneel opgeneemde liedjie en video vry te stel nie,” sê Harry.
Alhoewel Déjà Vu hul eie klank het wat uit ‘n mengsel van alternatief, rock en pop bestaan, is Harry dankbaar wat hy by groot name in die bedryf soos Francois van Coke en Fred den Hartog leer.
“Natuurlik het ek steeds ‘n sagte plek vir Spoegwolf ook,” glimlag hy, “maar ons wil ons eie stempel afdruk.”
Rof is op die groot sosiale musiekplatforms beskikbaar. Volg ook vir Harry op facebook by @Harry Broersma
