Ma bak koek om mediese kostes te dek
Kan iemand Dané (11) help? Sy benodig elke drie maande spesiale oogtoetse en 'n nuwe bril. Lees meer...
VAALPARK. – Dané Botha is in graad 6. Sy hou baie van teken, dans en musiek. Sy sou graag netbal en hokkie wou speel, maar op die oomblik is dit haar nie beskore nie.
Dané is bysiende en haar oë se toestand versleg teen ‘n onrusbarende tempo. Haar ma, Lize sê Dané het as kleuter reg voor die TV gaan staan en kyk.
Sy was maar 4 jaar oud toe sy haar eerste bril gekry het. Die regte probleem is egter eers in 2019 gediagnoseer waarna sy haar eerste bril met spesiale lense gekry het.

Daar is toe bepaal dat sy maar 3-4 cm voor haar kan sien. Die lense is duur en ongelukkig verander haar oë so vinnig dat sy veronderstel is om elke drie maande vir spesiale oogtoetse en nuwe lense te gaan.
Die Bothas het nie ‘n mediese fonds nie en haar ouers probeer reeds sedert 2020 om geld in te samel om die kostes te dek.
“Sy was verlede jaar laas by die oogarts, want ek betaal nog af aan die vorige bril. Die bril wat sy tans dra is al klaar weer te swak,” sug Lize moedeloos.
Lize bak koeke en kolwyntjies (cupcakes) in ‘n poging om geld in te samel om die onkostes te dek.
“Ek bak enige tipe koek, van verjaardag tot by doop- en troukoeke. Mense kan meer inligting kry op die facebookblad @La Sweetalicious Cakes.”
Dané laat haar nie onderkry nie. Alhoewel sy nie self aan sport kan deelneem nie, help sy graag uit by die sportgeleenthede. “Ek het nou die dag by die gewigstoot gewerk op die DP de Villiers-stadion,” vertel sy.
Sy hou van skool, maar nie so baie van wiskunde nie en het kleintyd al medaljes ontvang vir modelwerk. Sy het ‘n voorliefde vir tale en probeer tans Japannees via die internet aanleer.
Haar 11de verjaardagpartytjie se tema was Japan en daarvoor het sy ‘n kimono gedra, terwyl haar ma kunstig al die versierings gemaak he
Al wat Dané terughou is haar bysiendheid wat so vererger. Sou daar ‘n organisasie of individu wees wat kan help om haar huidige bril af te betaal en ‘n nuwe een te kry, kan hulle vir Lize by 062 159 3757 kontak.
