Local newsNewsNews

Twee in Vereeniging-streekhof vir moord van Pretoriase sakeman

Hulle het glo vir Riaan van Lingen (64) gekaap, vermoor, sy voertuig aan die brand gesteek en groot bedrae geld uit sy rekening uit getrek.

VEREENIGING. – Twee mans het die afgelope week vlugtig in die streekhof verskyn in verband met die moord van Riaan van Lingen (64) van Pretoria-Oos.

Skhumbuza Dlamini (31), ‘n burger van Eswatini, en Sizwe Nkosi (30) word aangekla van moord, ontvoering en roof met verswarende omstandighede.

Nkosi word ook van die onwettige besit van ‘n vuurwapen aangekla, terwyl Dlamini ‘n bykomende aanklag, wat verband hou met ‘n oortreding van immigrasiewetgewing, in die gesig staar.

Dit volg nadat Van Lingen se lyk blykbaar Dinsdag met verskeie koeëelwonde naby Klipfontein gevind is.

Die polisie het glo ook sy uitgebrande Ford Ranger en twee ander voertuie op ‘n stuk grond in De Deur, buite Vereeniging gevind.

Van Lingen het Maandag spoorloos verdwyn nadat hy sy huis by die Wingate Park Golf Estate in Moreletapark, Pretoria verlaat het, maar nooit weer teruggekeer nie.

Links: Die vuurwapen wat in een van die verdagtes se besit gevind is. Regs: Een van die verdagtes.

Hy sou glo na ‘n verdgadering in Olifantsfontein aan die Oos-Rand gaan en teen 17:00 weer by die huis gewees het.

Sy familie het glo op die dag van sy verdwyning omstreeks 13:50 met hom gekommunikeer, maar hy het nooit by die huis opgedaag nie.

Later is hy as vermis aangemeld en ‘n soektog is van stapel gestuur.

Vaalweekblad verstaan die opsporingstoestel van sy Ford Ranger is buite werking gestel.

Groot bedrae is blykbaar uit sy rekening getrek. ‘n Bedrag van R500 000 is glo vanaf sy bankrekening na ‘n onbekende rekening oorgeplaas. Nog R200 000 en R250 000 is glo aan ‘n motorhandelaar oorgeplaas.

Volgens die staat is transaksies van sowat R2 000 later by ‘n taverne in Thembisa gemaak.

Dlamini en Nkosi word glo met laasgenoemde transaksies verbind en is waarom hulle in hegtenis geneem is.

‘n Vuurwapen en weerkatsende polisiebaadjies is ook in hul besit gevind.

Die saak is tot 20 Februarie uitgestel. Die staat het aangedui dat hy Dlamini en Nkosi se borgaansoeke sal teenstaan.

Hulle bly in aanhouding tot die volgende verskyning.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button