Beurtkrag uitoorlê by Vaalpark Primêr
Basta met beurtkrag. Vaalpark Primêr gebruik sonkrag. Lees meer...
VAALPARK. – Van beurtkrag wat klasse tot stilstand dwing het Vaalpark Primêr genoeg gehad.
Die skool wat onder andere die Reading Rocket program het, asook interaktiewe borde en projektors in die klasse, het kosbare opvoedingstyd verloor wanneer die krag afgegaan het.
Waarnemende hoof, Jannie Erasmus het die beheerliggaam genader en self met navorsing begin om te bepaal wat die beste opsie vir die skool sal wees.
Daar is op sonpanele besluit en die week van 22 Januarie het die gekose maatskappy 90 panele geïnstalleer. ‘n Hyskraan is ingebring om die panele op die tweede verdieping se dak te kry.

Jannie sê hy was self op ‘n stadium op die dak om seker te maak alles verloop volgens plan. Teen 23 Januarie was alles klaar en nou se dae is beurtkrag nie meer ‘n beslommernis by die skool nie.
“Ons leer nog elke dag en is besig om onder meer die ou ligte stelselmatig te vervang met energiebesparende ligte. Almal is op ‘n missie om krag te bespaar,” verduidelik hy.
Die sonpanele is nie net meer koste-effektief as ‘n kragopwekker wat lawaaierig is en baie diesel gebruik nie, dis ook meer omgewingsvriendelik.
Vaalpark Primêr streef juis daarna om omgewingsbewaring en herwinningsgewoontes by die leerders te kweek.
“Dis regtig lekker om beurtkrag te kan omseil. In die verlede moes die personeel soms met lanterns en koplampies aandfunksies en oueraande bywoon, maar nou is daar lig.
“Met ons groot oueronderwyserbraai het die meeste mense nie eens agtergekom daar is beurtkrag in Vaalpark nie, so helder was die rugbyveld verlig. Dis net veiliger vir almal,” beduie hy.
Die skool is ook opgewonde want die 11 tydelike asbesklaskamers gaan uiteindelik vervang word met baksteengeboue. Die projek het so pas afgeskop en behoort oor 10 maande voltooi te wees.
