Local newsNews

Oudmatrone en dogter se lewensreis eindig saam

Lottie was net 19 toe sy met breinkanker gediagnoseer is en in 1994 twee breinoperasies en bestraling deurloop het. Dokters het destyds gereken sy het net 'n paar weke om te leef.

 

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van mev. Catharina Botes en haar dogter, Lottie van der Merwe, het Maandag tydens ‘n lofprysingsdiens hul laaste eer aan dié uitsonderlike vroue betuig.
Wyle mev. Botes (80) was ‘n bekende matrone van die destydse Vanderbijlpark-hospitaal in die 1980s, en was in haar werksjare ook as kliniese dosent aan die Ann Latsky Verplegingskollege verbonde. Sy het op 9 Januarie weens ‘n massiese beroerte en hartstilstand beswyk.

Foto: Wyle mev. Catharina Botes, wie se lewe Maandag saam met dié van haar dogter gevier is.

Nog voordat haar gedenkdiens gehou kon word, het Lottie (49), haar enigste kind, geval en erge skedelbreuk en breinbloeding opgedoen. Lottie het ‘n noodoperasie ondergaan maar nie weer haar bewussyn herwin nie. Sy was 16 dae in ‘n koma in Mediclinic Emfuleni se intensiewe sorgeenheid voordat sy op 2 Februarie oorlede is. Hoewel hartseer, kyk die diep gelowige Van der Merwe-gesin met dankbaarheid terug na Lottie se lewe, wat gevul was met seën en oorwinning – selfs wonderwerke.

Wyle Lottie van der Merwe.

Sy en haar man, Hennie van der Merwe, het mekaar al van hul hoërskooldae in Transvalia geken en in 1992, in haar matriekjaar, begin uitgaan. Lottie was net 19 toe sy met breinkanker gediagnoseer is en in 1994 twee breinoperasies en bestraling deurloop het. Dokters het destyds gereken sy het net ‘n paar weke om te leef.

“Met ‘n swaard van slegs ‘n paar weke se lewensverwagting oor haar kop, het ons saam ‘n geloofsprong geneem en besluit om einde 1994 te trou. Dit het ‘n veggees in haar wakker gemaak want ‘n maand voor ons troue kon die dokters geen kanker opspoor nie. Ons glo dit was die antwoord op baie gelowiges se gebede vir haar,” sê Hennie.

Hennie en Lottie van der Merwe in hul jonger jare.

Die egpaar moes vroeg in hul huwelik daarmee vrede maak dat hulle waarskynlik nooit kinders sou hê nie, maar weer het die Here ‘n ander plan gehad. Drie “wonderwerke” is uit die huwelik gebore: Hul dogter Katrien (23) is vandag ‘n onderwyseres aan die Hoërskool Vaalpark en die tweeling, Pieter en Johanné (16), is in Graad 11 aan die Hoërskool Driehoek.

In 2003 moes Lottie weer ‘n operasie weens breingewasse ondergaan, maar sy kon nog tot 2012 as verpleegkundige by Pathcare werk totdat sy met demensie gediagnoseer is – die gevolg van langtermyn newe-effekte van breinbestraling. In 2017 het sy haar laaste breinoperasie ondergaan, waarna haar toestand drasties agteruitgegaan het.

Deur dit alles was daar ‘n hegte band tussen Lottie en haar ma. Danksy mev. Botes se uitgebreide mediese kennis het sy deur die jare ‘n groot rol in Lottie se versorging gespeel. Dit was dus heel gepas dat hulle Maandag saam-saam gegroet is tydens ‘n diens by AGS Dinamika in Vanderbijlpark. Die Cantando@Deltakoor, waarvan Hennie en dogter Katrien albei lede is, het tydens die diens opgetree en die twee vroue se lewens gevier.
“Ek en die kinders wil ons opregte dank uitspreek vir elke besoek, drukkie, telefoonoproep of boodskap van bemoediging in die afgelope weke. Dankie ook aan almal wat ons in gebed gedra het. Dankie dat julle elkeen ‘n stukkie las van ons skouers afgehaal het. Ons het dit werklik ervaar,” sê Hennie.

Hennie en Lottie van der Merwe in 2017, voor haar laaste breinoperasie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button