VANDERBIJLPARK. – Mischke Jansen van Vuuren het in 2023 vele aktiwiteite aangepak en ‘n sukses van elkeen gemaak. “Ek was toe in graad 2,” vertel sy.
Dit was inderdaad vir haar ‘n groot jaar. Sy was deel van die Akademie vir Dramakuns (ADK) se eerste interne rolprent, het by Laerskool Kollegepark se opedag vir die gr. R’e opgetree en het hokkie en netbal gespeel.

Een van haar hoogtepunte was toe sy by die Vereeniging Kunstefees A++ toekennings en een A+++ toekenning gekry het. Die trippel A was vir gedramatiseerde poësie.
Die kersie op die koek was die kultuurbalkie wat sy by die skool gekry het. Mischke is ‘n trotse leerder van die LS Kollegepark.
“Almal ken my in die skool. Nadat ek die A+++ gekry het, het mnr. Herbst my voor die hele skool na die verhoog geroep. Ek het net gehoor hoe sê almal wow,” en sy glimlag breed.
Skool is vir haar baie lekker en sy hou veral van wiskunde. By die huis is sy altyd aan die gang. Mischke is lief vir teken, ‘n talent wat sy van haar pa Philip geërf het en geniet dit ook om saam met haar ouers foto’s te neem.
Haar gunsteling plek is die wildtuin. “Ek het my kamera altyd langs my op die agterste sitplek,” beduie sy met haar sagte gemsbok, Gemmie, in haar arms.
Gemmie het sy by die wildtuin gekoop, nes haar renoster Ronnie en seekoei Chomp. Laasgenoemde is vernoem na die ou TVadvertensie. Sy en haar pa geniet hul You Tube video’s.
“Ek hou baie van swem, lees en inkleur ook,” gesels sy en haar hande praat saam. “Ek is nogal besig.”
Haar ma Kara knik haar kop instemmend. “Vertel vir die tannie van die Duits.” “O ja, ek gaan nou begin om Duits te leer. Ons gaan later in die jaar Namibië toe en ek het gehoor hulle praat baie Duits daar. Ek wil hulle darem verstaan,” verklaar sy beslis.
Sy geniet al haar aktiwiteite en som dit op met: “Ek hou daarvan om lekker goed te doen”.
