Denel nou amptelik 2023 se topmatriek in die streek
Algehele Beste matrikulant in die SediWes-streek,wat tot by Krugersdorp strek.
VANDERBIJLPARK. – Die Hoërskool Driehoek kan nou amptelik spog met die streek se topmatrikulant in die 2023-eindeksamen. Een van die skool se uitblinkers, die voormalige onderhoofseun Denel Tolmay, het sewe onderskeidings verwerf, maar nie besef dat hy die beste in sy skoolstreek gevaar het nie.
Denel het dié verrassende nuus eers ontvang toe hy onlangs deur die Onderwysdepartement genooi is om ‘n prysuitdeling vir verskeie skooldistrikte wat tot by Krugersdorp strek, by te woon. Hy is hier vereer as Algehele Beste Leerder in die SediWes-streek en het onder andere ‘n erekleure-baadjie, die SediWes-streek se wisseltrofee, ‘n sertifikaat en skootrekenaar wat deur Vodacom geborg is, ontvang. Hy het ook trofeë, medaljes en sertifikate ontvang as die streek se topleerder in Inligtingstegnologie en Wiskunde.
Hy het voorts ook ‘n trofee, medalje en sertifikaat ontvang as toppresteerder in die “Quintile 5”-kategorie (dit is skole waar skoolfonds betaalbaar is).
Dit was egter nie die einde van Denel se prestasies nie. Hy is tydens ‘n tweede prestige-toekenningsgeleentheid ook op distriksvlak gehuldig as Sedibeng-Wes (D8-distrik) se Algehele Topleerder met die titel: “Champ of the Champions”. Hiervoor het hy ook ‘n trofee, sertifikaat en verskeie hoëgehalte geskenke ontvang.
Denel is ook aangewys as die D8-distrik se toppresteerder in die volgende vakke:
1ste plek: Afrikaans (Eerste Taal)- 94%.
1ste plek: Wiskunde – 97%.
1ste plek: Inligtingstegnologie – 98%.
Met sy puntetelling van 1 669 is hy aangewys as die 2023 se topmatrikulant, gevolg deur Elaine Lategan van die Hoërskool Transvalia met ‘n telling van 1 622.
Denel begin vanjaar met sy studies vir ‘n BSc-graad (Fisika en Rekenaarwetenskap) aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.