Local newsNewsNews

Die vissies het gebyt by Vaaldam

Wat is lekkerder as 'n dag langs die dam? Nog beter as dit vir 'n goeie doel is. Lees meer...

VAALDAM. – Die Fishing 4 Pets dag wat deur die Get Up and Go Omgee Vriendegroep gereël is, het 10 Februarie by Die Damwalle langs die Vaaldam plaasgevind.

Silwer die Worshond kyk hoe Johan du Plessis nog ‘n vis, wat hy wou gehou het, vrylaat.

Na die vorige nag se reën, was die opkoms nie so groot as wat verwag is nie. Daar het darem oor die R1 000 in die donasiekissie vir die Dierebeskermingsvereniging beland en daar is honde- en katkos ingesamel.

Die weer het mooi saamgespeel en die tipiese Vaaldamwind het eers na 14:00 begin waai.

Stefan van Niekerk katrol die eerste vis wat hy nog ooit gevang het in. Foto’s Gerda Bruinette

Deur die loop van die oggend is daar vrolike musiek, van visvangliedjies tot by Country gespeel, terwyl plaaslike kunstenaar, Andries de Beer ook sy sangtalent ten toon gestel het.

Die visse het nie heeltemal saamgespeel nie. Die ou grotes was seker weg vir die naweek, maar die kleiner karps het gereeld hul verskyning gemaak.

Daar is ywerig foto’s geneem as ‘n vis gevang is, voordat dit weer vrygelaat is. Die enigste een wat ongelukkig was met die vrylatings was Silwer die Worshond.

René de Bruin en Johan du Plessis het douvoordag al lyne in die water gehad

Hy en sy pekinese boetie Baily het saam met hul mens-ouers René de Bruin en Johan du Plessis kom visvang. Baily het rustig onder die gazebo gelê, maar Silwer het opgewonde getrippel as ‘n vis ingekatrol is.

Wanneer die vis dan weer vrygelaat is, het hy elke keer tevergeefs in die vlakwater gesoek waar hy laas die vis gesien het.

Een van die dag se organiseerders en self ‘n bedrewe hengelaar, Johan van der Merwe het Stefan van Niekerk (14) se dag gemaak deur hom te help om sy eerste vis te vang.

Org en Linda Meyer van Vanderbijlpark het teen 11:30 al met agt visse tussen hulle gespog.

Stefan het sy dobbertjie met ‘n valkoog dopgehou en die opgewondenheid was groot toe hy die vis uittrek. Johan het hom verseker dat dit hengeltradisie is om jou eerste vis te soen, wat die jongman dan ook plegtig gedoen het alvorens hy die vis weer laat swem het.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button