‘Dié diep gate is ‘n groot gevaar vir motoriste – wees waaksaam!’
Moet hier eers 'n ongeluk gebeur voordat die owerhede waarskuwingsband om die gate span of dit herstel, vra 'n inwoner.
Vaalweekblad het motoriste en voetgangers die afgelope maande al dikwels gewaarsku teen dié enorme gate in Westinghouse-boulevard, Vanderbijlpark, omdat daar geen waarskuwingslint om dit is nie. Die gate is taamlik onopsigtelik en baie na aan die pad – en baie diep. ‘n Niksvermoedende voetganger wat per ongeluk hierin beland, gaan beslis seerkry! Lees wat een van Vaalweekblad se lesers sê:
Gerrie Castelyn van Vanderbijlpark skryf:
Daar is twee verskriklike gate aan die linkerkant van die pad in Westinghouse-boulevard, net voor die sirkel wat lei na Jan van Riebeeck-boulevard.
Ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar dink net as iemand in die dag of nag daarin val wanneer hul stap (deesdae loop so baie en tik op hul fone en kyk nie waar hul loop nie), of iemand met hul kar of karwiel daarin beland… of as ‘n kind met ‘n fiets skool toe ry en dit nie raaksien nie… Dit kan erge nagevolge hê!
Ek kan nie glo ons munisipaliteit beveilig nie die diep gate nie of baken dit nie ten minste af met waarskuwingslint nie. Wag seker dat iemand eers ‘n ongeluk maak en sê dan hulle het nie geweet nie!

Een van die groot gate direk langs die ryvlak van die pad.

