Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Vasberade om Vaaldam se vis te vang

RUBRIEK. - Ek verbeel my ek is 'n hengelaar en vang sonbrand ten spyte van sonblok.

RUBRIEK. – Ek het die ander Saterdag vir die eerste keer in dekades ‘n vis gevang. Ok, dit was ‘n vissie.

Feit is ek het self die aas aangesit, behalwe die erdwurms, dis te grieselig vir my brose gestel, self ingegooi en self gekap.

Dis ook waar dit opgehou het, want toe daai lyn skielik so styfspan toe raak ek weer pure 10-jarige en doen presies wat ek desjare terug gedoen het.

Daar is die bewys, ek het ook ‘n vis gevang.

Gryp die stok en vergeet geheel en al om die katrol voor vas te hou en die rem los te maak. Kraaines op die katrol, summier en dadelik.

Gelukkig is Johan van dieselfde stoffasie as my oorlede pa. Nes Pa destyds het hy maar die vis met die hand uitgetrek en sonder om te raas die katrol ontrafel.

Eintlik was ons by die Vaaldam vir die Fishing 4 Pets dag. Daar is kos ingesamel vir weeshonde- en katte.

Die dam is net 70% vol so die hengelaars moes in die dam stap om die nodige aas darem in dieper water te kry.

So tussen die fotonemery en gesels deur het ek alles van onder die sambreel dopgehou.

Dit was tot ek gehoor het: “Wil jy eers op die gras oefen om in te gooi of sien jy kans om dit dadelik met aas aan te doen?”

Ek hap soos ‘n vis op droë grond. Lyn ingooi het ek kleintyd laas gedoen. Ek beloer die visstok, die water en die mense.

Dink by myself, wat as iemand nou ‘n kamera het en hul my afneem terwyl ek oefen op die wal? Dit sal minder aandag trek as ek soos al die ander vislyn in die water gooi.

Braaf begeef ek my in die water. “Voel die gewig. Besluit self wanneer jy gaan ingooi. Onthou net om die lyn te los,” hoor ek die raad.

Ek konsentreer meer om nie oor al die los klippe neer te slaan nie. Met die water nog nie eens naby kniehoogte nie, mik ek oor my skouer en hoop vir die beste.

My eerste ingooi in dekades verloop verbasend goed. Ek was trots op myself al het ek net die enetjie gevang.

Johan het darem vyf gevang en losgelaat, verder het ons net sonbrand gekry. Blykbaar werk faktor 40 sonblok nie as dit al amper ‘n dekade oud is nie.

Back to top button