Kontrakwerkers van ELM wat omkoopgeld vra, vasgetrek
'n Lokval was vir die korrupte kontrakwerkers gestel en hul skelmstreke is op video vasgevang.
Die VF Plus, in samewerking met die maatskappy wat elektrisiteit weens wanbetaling in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit afsny, het twee van dié maatskappy werknemers vasgetrek wat na bewering omkoopgeld van ʼn sakeman in Vanderbijlpark geëis het om nie sy krag te sny nie.
“Dié twee werkers het glo ook omkoopgeld van ander inwoners en ondernemings geëis om hul krag aan te los,” sê rdl. Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni.
Sy het verduidelik dat die VF Plus twee jaar gelde met ʼn ondersoek begin het om dié kontakwerkers vas te trek, nadat inwoners en sakelui die party genader het om hulp.
ʼn Sakeman van wie omkoopgeld geëis is, het verlede Donderdag saam met die party en die maatskappy ʼn lokval vir die werkers gestel.
Hulle het aanvanklik R10 000 gevra om nie die sakeman se krag na sy perseel af te sny nie, maar later geskik vir R4 000. Die hele voorval is op video opgeneem.
Die munisipaliteit is besig om die omvang van die saak te ondersoek.
Volgens inligting het nog mense van wie omkoopgeld gevra is, na vore gekom.
“Ons versoek inwoners om nie omkoopgeld aan enige persoon te betaal weens ʼn agterstallige rekening nie, maar om eerder ʼn afbetalingsooreenkoms met die munisipaliteit aan te gaan.
“Inwoners wat omkoopgeld betaal om hul krag onwettig te laat koppel of nie af te sny nie, kan ʼn stewige boete van die munisipaliteit op die lyf loop,” waarsku rdl. Senekal.
“Emfuleni sukkel reeds om maandeliks sy kragrekening aan Eskom te betaal en kan nie bekostig dat inwoners hom nog verder in die skuld dompel met onwettige kragaansluitings nie,’ het sy afgesluit.
