Stilfontein Hurricanes saai verwoesting in Vaaldriehoek
Die Hurricanes van Stilfontein het verlede naweek plaaslike spanne 'n loesing op die rugbyveld gegee.
*Die storie het eerste in die gedrukte uitgawe van Vaalweekblad (23 Februarie) verskyn. Kry ons gedrukte koerant vir meer foto’s.
VANDERBIJLPARK. – Dit is asof ‘n orkaan die Vaaldriehoek verlede naweek getref het.
Daardie orkaan was die Stilfontein Hurricanes, ‘n besoekende rugbyspan van Noordwes wat die afgelope week kragte teen plaaslike spanne van die Vaaldriehoek op die Ou Yskor-rugbyveld in CW5 gemeet het.
Die besoekers het ál drie hul wedstryde teen plaaslike spanne van Sasolburg en Vanderbijlpark gewen.
Die besoekers het beide die Cobras van Sasolburg se o.21 span en eerste span se giftande getrek en boonop Vanderbijlpark se tweede span vermorsel.
Die eindtelling van die wedstryde was as volg (wenspan se telling word eerste vermeld):
* Stilfontein Hurricanes 3 teen Sasolburg Rugbyklub o.21: 19-12.
* Stilfontein Hurricanes 2 teen Vanderbijlpark Rugbyklub: 33-26
* Stilfontein Hurricanes 1 teen Sasolburg Rugbyklub: 43-12
* Die Sasolburg Kobras Rugbyklub oefen Dinsdae en Donderdae (18:00-20:00) by die DP de Villiers-stadion. Skakel Deon van Rooyen (hoofafrigter) by 079 758 8968 of Christo de Beer (voorsitter) by 071 607 7710.




