Local newsNewsNews

Oom Japie is al 30 jaar op sy pos

Mense wat gereeld die hospitaal in Vanderbijlpark besoek, sal die oom herken. Hy is meer as 'n motorwag, hy het baie se vertroueling geword.

VANDERBIJLPARK. – Vir die afgelope 30 jaar is Japie Jacobs al op sy pos as motorwag by Cormed Hospitaal.

“4 Maart sal dit presies 30 jaar wees,” knik hy instemmend. Sy oë voortdurend op die uitkyk vir iemand wat hulp benodig. Saterdag, 24 Februarie vier hy sy 76ste verjaardag.

“Ek is nog fiks en gesond. Was 29 jaar laas by die dokter,” vertel hy met ‘n vonkel in die oë.

Hy skryf sy goeie gesondheid toe aan genade van Bo en dat hy elke drie maande net so drie druppels Dettol met ‘n bietjie water drink.

Oom Japie, soos almal hom ken, onthou toe hy daar begin het was die hospitaal nog klein, daar was nog’n restaurant op die een hoek en net vier dokters.

“Ek het dr. Pieter Lategan se kinders voor my sien grootword,” beduie hy. Deur die jare was hy op sy pos in alle weersomstandighede en seisoene.

“Ek vat nie verlof nie, ook nie siekverlof nie. Ek het op ‘n plaas grootgeword. As jy daar gaan sit het, het jy slae gekry. My ouers het my geleer as jy nie werk nie, verdien jy nie jou bord kos nie.”

Voordat hy sy pos as motorwag by Cormed ingeneem het, was hy onder andere boukontrakteur en het hy in die Poskantoor gewerk.

Op ‘n stadium het sy rug hom moeilikheid gegee en moes hy ‘n groot operasie ondergaan.

“Ek het ses skroewe aan die linkerkant en ses skroewe aan die regterkant van my rug.”

Nadat hy van die rugoperasie herstel het en weer kon loop, het hy besluit die Here het hom ‘n tweede kans gegee.

“Ek het hier begin en nog nooit weer teruggekyk nie. Dis nie net van motors oppas nie. “Ek bemoedig die mense ook.”

‘n Oor het hy altyd vir sy medemens en hy help waar hy kan. “Wag Nooi, ek moet gaan help om daardie vleis af te laai,” en oom Japie stap flink weg. Regop. Trots. Met ‘n hart vol empatie vir sy medemens.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button