Gesin pak tweekamp saam aan
Die Nels stel 'n voorbeeld vir ander, want die gesin oefen en kompeteer saam.
VAALPARK. – Die Nels is ‘n hegte gesin wat ‘n punt daarvan maak om tyd saam te spandeer. Nie net speeltyd nie, maar ook oefentyd.
Pa André het vyf jaar gelede met CrossFit begin, maar verlede jaar het hy en sy vrou, Alice besluit hulle sal plan moet maak en regtig fiks word.
“Ons kinders Caleb (amper 9) en Isabella (5) is baie aktief en ons kon net nie meer byhou nie,” onthou Alice.

“Sy het ook begin CrossFit doen en Caleb het in die kinderklas begin. Isabella het hierdie jaar begin met ‘n CrossFit klas by Vaalpark Primêr. Die kleintjies doen meer gimnastiek, maar geniet dit baie.”
Caleb is die naelloper en rugbyspeler in die gesin. Sy grootste droom is om eendag vir die Springbokke losskakel te speel.
Intussen blits hy die 60 m en 80 m met gemak af en neem ook aan tweekamp deel.
“Verlede jaar het hy vir my gesê, hoekom moet hy alleen suffer met tweekamp? Dit het my laat besef hoeveel emosionele druk daar op die kinders is wanneer hulle aan sport deelneem.
“Ek het toe besluit om vir hom die voorbeeld te stel en te wys dat ons almal maar swaarkry wanneer ons aan kompetisies deelneem, maar dat dit die klaarmaak is wat saak maak,” vertel Alice.
Alice en Isabella het albei saam met Caleb aan ‘n tweekamp deelgeneem. Caleb is ‘n kampioen en het reeds vir die SA’s gekwalifiseer.

“Isabella wou ook deelneem, maar sy is nog te jonk om dit amptelik te doen. Ek het toestemming by die baanbeamptes gekry en sy het ook die 400 m gehardloop (ek het saam gedraf) en 25 m geswem,” vertel André trots.
Alice het die 800 m gedoen en 100 m geswem, terwyl Caleb uitgeblink het in die 400 m en 80 m geswem het.
Die gesin is dit eens dat hul lewenstyl en algemene gesondheid verbeter het vandat hul saam begin oefen het.
André en Alice neem ook aan CrossFit kompetisies deel.
