Vat ‘n kans op ‘Die Lewensdans’
VEREENIGING. - Die Vaal spog met verskeie suksesvolle musikante, waarvan Lion Jay een is, en hy het pas 'n nuwe enkelsnit vrygestel.
Dit voel sommer soos nou die dag wat Lion Jay sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak het, maar hy was die afgelope twee jaar besig en het vir hom ‘n stewige plekkie in die Countrymusiek-wêreld los gesing.
Die rede hiervoor is twee suksesvolle country albums en ‘n hele paar van sy liedjies wat nommer een posisies op trefferparades behaal het.
Dit het natuurlik aan hom heelwat (welverdiende) musiektoekennings besorg.
Behalwe vir country, spog Lion Jay ook met suksesvolle kontemporêre albums, wat liedjies uit sy eie pen insluit.
Dit is duidelik dat hy deurlopend aan sy sangtalent skaaf en dat dit wyer as een genre strek. Hy het in twee jaar sy aanhangers met ses albums bederf.
Lion Jay se nuuste enkelsnit Die Lewensdans is pas vrygestel. Dis een van sy eie liedjies wat in samewerking met musiekvervaardiger Hennie Ungerer die lig gesien het.
“Die Lewensdans vertel die verhaal van hoop en liefde wat altyd ‘n moontlikheid is vir elkeen van ons,” verduidelik hy.

Met lirieke wat elke hart raak, gekombineer met ‘n lewendige dansritme, wil dit blyk ‘n wenkombinasie te wees.
“Ek hoop die lied inspireer mense om te luister wanneer liefde aan die hart se deur klop en om dan oop te maak,” sê Lion Jay.
Die Afrikaanse musiekmark is ‘n moeilike, kompeterende een.
Die Lewensdans beloof om oud en jonk lewendig te laat voel en mag dalk net die regte lied wees vir Lion Jay om ‘n plekke in Afrikaanse musiekliefhebbers se harte los te sing.
Die Lewensdans se musiekvideo, wat deur Deon van Wyk verfilm is, vertel die storie van ‘n danseres wat haar ander helfte ontmoet en hoe hulle saam die lewenspad hand aan hand begin loop.
Die Lewensdans is beskikbaar op Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer, Amazon Music en nog vele meer.
Volg Lion Jay op:
Facebook – https://www.facebook.com/profile.php?id=100064569199112
Instagram – https://www.instagram.com/leon.jacobs.148/
YouTube – https://www.youtube.com/@lionjay
TikTok – https://www.tiktok.com/@leonjacobs12
