Wyle Martie het koerante én liefde in die Vaal versprei
Dokters het haar reeds in 2021 as 'n "wandelende wonderwerk" bestempel nadat sy Covid oorleef het.
VANDERBIJLPARK. – Mev. Martie Ellis (72), ‘n jarelange verspreider van Vaalweekblad, is verlede Donderdag oorlede nadat haar gesondheid die afgelope tyd vinnig agteruitgegaan het.
Mev. Ellis, wat haar in 1986 saam met haar man Frank in Vaalpark kom vestig het, was in haar jonger dae ‘n bekende gesig onder koerantlesers van die gebied. Sy het aanvanklik net Vaalweekblad in Vaalpark versprei, maar mettertyd ook die verspreiding van ander koerante en tydskrifte soos Huisgenoot behartig. Sy is deur die jare herhaaldelik deur Nasionale Nuusdistrubeerders en Vaalweekblad met merietesertifikate beloon vir haar uitstekende werk. Sy en haar man het in 2005 na Vanderbijlpark verhuis om nader aan haar kinders te wees.
“My ma was ‘n regte hartsmens wat omgegee het vir ander. Sy wou almal net gelukkig sien. Die kinders wat vir haar koerante afgelewer het, het geweet hulle kon altyd by hul geliefde ‘koeranttannie’ sit en hul harte by haar uitpraat. En sy wou almal altyd kos gee. Sy het ‘n gawe gehad om met baie min, baie mense te voed,” sê haar seun, Baber Hattingh.
“Sy was baie lief daarvoor om in die kombuis te werskaf – van bak en brou tot inlê en konfyt maak. Later jare was chilli- en jalapeno-souse haar spesialiteit. Sy was ‘n voorslag met die naaimasjien en het deur die jare vele volledige trourokke gemaak. Brei en hekel het onder haar hande ook geloop soos stroop.”
Volgens Baber het mev. Ellis in 2021 Covid opgedoen en byna ‘n maand in Cormed se intensiewe sorgeenheid deurgebring. “Die dokters het toe al gesê sy was ‘n wandelende wonderwerk omdat sy die siekte oorleef het. Ongelukkig het haar gesondheid mettertyd verder agteruitgegaan. Sy het verlede week, die oggend van 15 Februarie, rustig by haar huis in Vanderbijlpark gesterf.
“Ma se nalatenskap strek baie verder as wat enigeen ooit sal besef. Ek koester nou die goeie waardes wat sy my geleer het en put krag uit die baie mooi herinneringe,” sê Baber.
Mev. Ellis word buiten haar man van die afgelope 40 jaar ook oorleef deur haar kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, ‘n broer en susters. Haar gedenkdiens is Saterdagoggend, 24 Februarie, by die Nanascol-begraafplaas buite Vanderbijlpark gehou.

Wyle mev. Martie Ellis.


