Local newsNewsNews

Ek sê maar net: Ek is amper by die redakteur aangegee

RUBRIEK. - As jou pekinees dreig om die redakteur te bel dan weet jy, jy moet maar vinnig spring. Kleinsus Antjie is weer op haar stukke.

RUBRIEK. – Kleinsus Antjie, ook bekend as Babatjie, Boeboe, Sussie, Juffrou Bruinette en wanneer sy regtig nie wil luister nie, haar volle name Anna Catharina Pieternella Bruinette, is die jongste pekinese, maar sy regeer met ‘n ysterpoot.

Wat Antjie wil, gebeur. Niemand durf haar teëgaan nie. Sy lyk dalk klein en kan net op drie pote trap, maar as haar hare eers op haar rug regop staan, reken sy, sy is groter as Malcolm Marx.

Kleinsus Antjie, diep beswaard want ek wil nie luister nie.

Sy dink gereeld nuwe geite uit. Ma was die afgelope paar maande siek en het derhalwe baie tyd in haar kamer deurgebring.

Met al die etes wat ek vir Ma aangedra het, het Madame Antjie ‘n nuwe roetine opgetel. Sy eet glad nie meer soos die honde (sy klassifiseer haarself nie as ‘n hond nie) op die grond nie.

O nee, haar wit bordjie (sy eet nie uit ‘n hondebak nie) moet nou bo-op Ma se bed gesit word. Dan moet ‘n pienk handdoekie oopgesprei word en dan eers sal sy haar kos eet.

Stiptelik om 20:00 dan wil Antjie nog ‘n “ietsie” hê. Sy kan waar in die huis doenig wees, maar 20:00 maak sy haar verskyning langs Ma se bed en brom en grom totdat sy op die bed getel word.

Dan moet haar pienk handdoekie weer reggesit word en sy gaan sit en staar vir die deur. Dis dan wanneer ek my verskyning moet maak met haar spesiale piering met iets te ete in.

Bewaar jou siel as daar niks vir haar gebêre is nie. So wat van ‘n kwaaitjie het jy lanklaas aanskou. Nou die aand was ek doenig op my rekenaar.

Antjie was al op Ma se bed en ek hoor hoe gaan sy te kere dat ek moet plan maak.

Ek het nie dadelik gereageer nie en derhalwe het sy haar gewip en bo-op die pienk handdoekie gaan lê, baie dikbek.

Sy was net van plan om die Vaalweekblad se redakteur te skakel om my te verkla toe ek uiteindelik met haar piering opdaag.

Waarna sy my vergewe het en summier vir Baba Bessie en Her Royal Naugthyness Heidi vanuit die hoogtes gegrom het. Net om hulle te herinner wie is nou eintlik koningin in die huis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button