Grootste funksionele driepootpot ooit tans in wording
Het jy al jou kaartjie vir 16 Maart? Lees hier meer oor hoe massiewe pot gaan lyk en werk.
VANDERBIJLPARK. – Die uitdaging is gestel en MAN Energy Solutions South Africa (Edms) Bpk. het gesê dit kan gedoen word. Die grootste driepootpot ooit is in wording.

In die fabriek wag die binneste rol op afwerking, die drie pote, elkeen 4 m lank, is amper klaar en die deksel van die 2.5 m in deursnee pot is reeds gesny.
Verskeie ander ondernemings is ook betrokke, onder meer Bekker Staal. Die ronding van die pot word op ‘n ander perseel gegiet.
Alles moet nog afgewerk word, die deksel se gate moet gemaak word en die trappe gebou word. Die pot is nie net vir die mooi nie, dit moet ‘n funksionele pot wees wat kos teen 85 °C kan warm hou.

Veiligheid is belangrik en die pot kry dubbel isolasie om seker te maak niemand brand nie. Onder die pot gaan drie ekstra-groot gasbottels die hitte voorsien.
Binne kry die pot ‘n dubbel laag van die vlekvrye staal waar water gaan keer dat die kos nie aanbrand nie.
Die drie gate in die deksel is waar die kleiner potte ingegooi gaan word. ‘n Hyskraan gaan die grootste potte optel en ingooi, maar die wat kans sien om hul kleiner potte teen die trappe op te dra, sal dit kan doen.

Aan die een kant van die pot sal daar pype wees met kleppe. Dit is vir die opskepslag. “Hulle gaan die kleppe oopdraai en dan stroom die kos tot in groot opskepbakke,” verduidelik Peter Randall, senior ingenieur van MAN Energy Solutions South Africa (Edms) Bpk.
Op sy rekenaar is daar 3D-tekeninge wat die pot van alle kante beskryf. Die manne is opgewonde. Hulle hoop om die pot teen 10 Maart gereed te hê vir die wêreldrekordpoging wat 16 Maart by Rocking The Vaal by die Emerald Resort & Casino gaan plaasvind.
Kaartjies vir die dag, wat ‘n ete en vele produksies insluit, is aanlyn beskikbaar teen R195 per persoon by https://tickets.tixsa.co.za/ event/rocking-the-vaal.
Die Vaal gaan geskiedenis maak. Wees deel daarvan. 700 potte gaan gesellig prut. Daar is ‘n gestandaardiseerde resep.
Gas word voorsien. Bring net jou pot, bestanddele en gunstelingvoorskoot saam. Om potte in te skryf, stuur ‘n e-pos na admin@gtcoc.co.za.
