Local newsNews

Carien kry operasie om kankergewas van 7 kg te verwyder

Chemo-behandeling lê nou voor vir dié dapper, maar brose tiener.

 

SASOLBURG. – As 16-jarige meisie het die lewe tot November verlede jaar nog vol opwinding vir Carien Jacobs van Sasolburg gewink. Haar en haar gesin se lewens het egter soos handomkeer verander nadat ‘n massiewe kwaadaardige gewas aan haar eierstok ontdek is.
Volgens Carien se ma, mev. Chrissie Jacobs, het sy einde November verlede jaar begin siek voel. Sy kon nie veel eet nie en dit wat sy wel kon inneem, het nie lank binne gebly nie.

“In Desember het haar magie begin swel en sy het baie gewig begin verloor. Ons het haar dokter toe geneem, wat ons aangeraai het om dadelik ‘n sonar te laat doen. Daarmee is bevind dat sy ‘n groot gewas in haar buik het. Januarie is ons deur Kroonstad toe, waar Carien in die Boitumelo-staatshospitaal opgeneem is. Sy het twee weke daar gelê en verskeie toetse ondergaan voordat sy na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is. ‘n Week later, op 31 Januarie, is sy geopereer om die kwaadaardige gewas van 7kg te verwyder.

“Carien is op 2 Februarie ontslaan en ons is op 23 Februarie terug Universitas toe vir haar opvolgondersoek en uitslae. Ons het toe die nuus gekry dat sy eierstokkanker het en ongelukkig ‘n reeks chemo-behandelings sal moet ontvang,” sê Chrissie.
“Op net 16 jaar oud behoort Carien haar jeug te geniet, maar in plaas daarvan staar sy die uitdagings van kankerbehandeling in die gesig. Ons harte is seer by die gedagte aan wat sy moet verduur. As haar ouers is ons vasbeslote om alles in ons vermoë te doen om haar deur hierdie moeilike tyd te ondersteun.”

Hoewel Pa Willem ‘n vaste werk het, is die gesin se inkomste nie groot nie. Daar is nie finansies vir onverwagse uitgawes nie en die gesin het tans nie ‘n voertuig nie. Hulle is dus afhanklik van vriende wat hulle gereeld Bloemfontein toe en terug gaan vervoer.
Vir die trotse Jacobs-gesin is dit moeilik om in ander se oë te kyk vir hulp, maar hulle besef dat daar tans geen ander uitweg is nie. Hulle hoop om genoeg geld in te samel om minstens vir brandstof Bloemfontein toe en terug te kan betaal. Hulle moet juis komende Dinsdag weer Bloemfontein toe gaan. Enigiemand wat die gesin graag met ‘n geldelike donasie wil ondersteun, kan ‘n inbetaling doen aan C.M. Jacobs, Capitec Sasolburg, rekeningnommer: 1690486145, takkode: 470010.

Carien Jacobs (16), ‘n leerling van die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg, kan tans nie skool bywoon nie en wag nou om binnekort met haar chemo-behandeling in Bloemfontein te begin.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button