Local newsNewsNews

AJ (35) oorleef massiewe hartaanval

Dit is nie aldag dat 'n jongman van 35 jaar 'n hartaanval kry nie. Lees meer oor AJ van der Mescht se noue ontkoming.

Hy was oudergewoonte reeds vroegoggend in die gimnasium.

Hy is fiks, fris en gesond en niemand (nie eers hyself) het gedink dat hy as 35-jarige ‘n massiewe hartaanval sal kry nie.

Maar op 13 Februarie het hy by die dood omgedraai, en die hartaanval was nie weens die strawwe oefening in die gimnasium nie, maar weens oorerflike hoë cholesterol.

AJ van der Mescht is ‘n bekende in plaaslike sportkringe. Hy het in 2007 aan die Hoërskool Transvalia matrikuleer.

Tydens sy skoolloopbaan het hy op provinsiale vlak in rugby, hokkie en atletiek uitgeblink.

Hy het vroeg in sy lewe ‘n liefde vir harde oefening in die gimnasium ontwikkel. Sy passie het in 2011 sy loopbaan geword as ‘n gewilde persoonlike afrigter by Virgin Active in Vanderbijlpark.

Hy het egter twee jaar gelede na Pretoria verhuis om nader aan sy seuntjie uit ‘n vorige verhouding te wees.

Dit was ‘n goeie skuif vir AJ en hy het vinnig opgang gemaak.

“Ek was geskok toe ek uitvind dat ek hoë cholesterol het. Ek het dit nooit eens vermoed nie.

“Dit het veroorsaak dat vier are in my hart vernou het. Dit het tot die massiewe hartaanval gelei,” vertel AJ.

Was dit nie vir die feit dat hy ‘n fikse leefstyl volg nie, sou hy waarskynlik nie die hartaanval oorleef het nie.

AJ van der Mescht wat op 35-jarige ouderdom ‘n massiewe
hartaanval oorleef het.

Volgens dokters sou nege uit tien mense nie die hartaanval oorleef het nie. Daar is besluit dat AJ te jonk is om ‘n hartomleiding te kry.

‘n Hartomleiding kan tussen 10 tot 15 jaar sy doel dien, waarna ‘n persoon waarskynlik nog ‘n operasie sal moet ondergaan.

Daar is toe ‘n stent in een van sy hart-are geplaas.

Na twee weke is AJ ontslaan en kon hy sedert Maandag by die huis begin aansterk. Hy sal vir die volgende paar weke rustig wees, en sal weer oor ses weke met ligte oefeninge kan begin.

“My raad aan ander jong ouens is om toetse te laat doen en te bepaal of jy nie dalk hoë cholesterol het nie.

“Veral as jy familielede het wat aan hoë cholesterol ly, moet jy maar vir die toetse gaan,” sluit AJ af.

AJ is bly om tuis te wees na twee weke in die hospitaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button