Drie Riviere se herafbakeningsaansoek teruggetrek
Inwoners van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se rykste wyk wou met mag en mening van die plaaslike munisipaliteit afstig weens dienste wat nie gelewer word nie.
VEREENIGING. – Die Munisipale Herafbakeningsraad (MHR) het laat weet dat die aansoek om die munisipale grense te herskuif sodat Drie Riviere deel van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit word is teruggetrek is.
Die saak word daarmee gesluit en die herafbakeningsraad sal nie voortgaan met die herafbakening nie.
Vaalweekblad het in Januarie berig dat die aansoek voorlopig deur die herafbakengsraad goedgekeur is en dat geaffekteerde partye 30 dae gehad het om beswaar teen die herafbakening aan te teken.
Terwyl verskeie inwoners uit die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit wou wegbreek het ander laat weet dat hulle nie hierdie aansoek steun nie, aangesien Drie Riviere tussen R40 miljoen en R41 miljoen in erfbelasting vir die plaaslike munisipaliteit inbring.
Ander het gesê dat die grensverskuiwing die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit van ‘n groot gedeelte van sy inkomste sou beroof (“daylight robbery” is die term wat gebruik is).
Nadat insette van alle oorde in ag geneem is het die herafbakeningsraad besluit om die aansoek terug te trek.


