Local newsNewsNews

Ek sê maar net – Balle rol is nie my sterkpunt nie

RUBRIEK. - Ten Pin Bowling is pret, maar ek was nie baie suksesvol nie.

RUBRIEK. – Ek verjaar in Februarie. Om die groot dag te vier besluit ons om Ten Pin Bowling te gaan speel. Johan het dit laas op skool probeer en ek nog nooit.

Die man op diens is vriendelik. Hy beduie van balle en gewigte en skud kop vir my sandale. Ek skop my skoene summier uit. Enige verskoning om kaalvoet te wees.

Baan nommer 3 se skerm flits ons name. Daar is ‘n raakskerm waar ons eers foto’s neem. Drie elk. Op elkeen trek ons gesig.

Uiteindelik is ons reg om die eerste pot aan te durf. Ek probeer onthou wat ek op You Tube gesien het. Trap vas met my regtervoet, terwyl ek my linkerbeen uitskop.

Die bal poer-poer genadeloos in die baan af en beland sonder seremonie in die sloot.

“Sit meer krag in,” kry ek raad van die kant af. Tweede een swaai ek my arm met meer geweld as krag. Ruk amper my skouer uit potjie, maar dit help niks.

Die bal rol grasieus tot binne die sloot. “Eintlik moet jy op die penne daarvoor konsentreer,” kry ek nog raad.

Terwyl dit sy beurt is, werk my brein oortyd. Hierdie aksie vereis dat mens veelvuldige take op een slag verrig.

Moeilike take, soos om nie oor die swart lyn te trap nie, want dis baie glad en jy gaan val en om te onthou om die bal reg vas te hou, die bal te los, krag in te sit en nog te kyk waar gaan die bal heen…

Ek stel al my breinselle in werking om die volgende pot darem reg te begin. Jou wraggies, 9 penne val tegelyk om.

Wens ek kon sê dit was die begin van vele fantastiese gooie waar die penne links en regs gespat het.

Toe nou nie… Meer as die helfte van my balle land in die sloot. Die ander haal darem so 8 of 9 penne op ’n slag uit.

Bokant ons koppe flits die skerm prettige insetsels met ons gesigte in animasie vasgevang.

Ek lag so, ek kry nie die bal gerol nie. Na 10 potte is die spel verby. “Ons gaan nie nog een waag nie,” stem ons saam.

Dis beslis ongewone oefening en ons sien al hoe kry ons nie die volgende dag getik weens stywe spiere nie!

Back to top button