Local newsNews

Gebede dra pastoriepaar deur dié siekte

Sy dokters sal binnekort besluit oor die beste behandelingsplan vorentoe. Die tumor gaan nie dadelik verwyder word nie maar eers met toepaslike behandeling gekrimp word.

 

VEREENIGING. – Pastoor Gert Prinsloo (59) was nog altyd ‘n gesonde man wat nie die binnekant van ‘n dokterspreekkamer geken het nie. Alles het egter in Januarie verander toe hy onverwags met kolonkanker gediagnoseer is.
Pastoor Gert en sy vrou, Thea, het in die 30 jaar wat hulle aan die stuur van hul onafhanklike Lewende Waters Pinksterbediening was, bekend geword vir die Koninkrykswerk wat hulle in die Vaaldriehoek doen. Die naam is mettertyd na die Rehobot-gemeente verander en hulle het ‘n stuk grond langs die R59-snelweg gekoop, waar hulle begin bou en hul bediening voortgesit het.

In die laaste paar maande van 2023 het pastoor Gert met maagprobleme en voortdurende diarree begin sukkel. Hy het in ‘n kort tyd meer as 20 kg verloor, was by tye deurmekaar en het soms ‘n geweldige hoë koors ontwikkel. Dit was egter eers in Januarie dat hy besluit het om dokter toe te gaan.

“My pa was nog nooit ‘n ‘doktersmens’ nie, maar van daar af het dinge vinnig verloop,” sê die Prinsloos se dogter, mev. Monique Kriel.
Pastoor Gert is vir ‘n kolonoskopie na ‘n spesialis gestuur, wat bevind het dat hy ‘n geharde bakterie opgedoen het. Daar is gehoop dat dit die rede vir sy voortdurende moegheid en ander simptome was. Hy is vir twee weke op ‘n kursus sterk antibiotika geplaas, maar dit was gou duidelik dat die bakterie nie die enigste probleem was nie. Hy is vir nog skanderings van die pelvis en kolon gestuur, wat bevind het dat daar ‘n massa van sowat 10 cm by 10 cm aan die onderkant van sy kolon was. Dit het verklaar waarom hy soveel ongemak en drukking in sy onderlyf gevoel het en skaars kon sit.

‘n Biopsie het gevolg en radioloë het die gesin se vrese bevestig: Dit was inderdaad ‘n kwaadaardige gewas wat besig was om die onderste deel van sy kolon te blokkeer.
Pastoor Gert is na ‘n spesialis in Johannesburg verwys, wat daarin kon slaag om hom in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal vir ‘n noodoperasie te laat opneem omdat die obstruksie sy derm kon laat bars. ‘n Operasie is verlede Dinsdag uitgevoer om die blokkasie tydelik met ‘n uitwendige kolostomie-sakkie te verlig.

“Sy dokters sal binnekort besluit oor die beste behandelingsplan vorentoe. Die tumor gaan nie dadelik verwyder word nie maar eers met toepaslike behandeling gekrimp word. Afhangende of die kanker versprei het, sal daar met chemoterapie of bestraling begin word,” sê Monique.
“Hulle kyk verskiklik mooi na my pa by Baragwanath en hy ontvang uitstekende behandeling van kundige spesialiste en professore. Hoewel hy aanvanklik baie teësinnig was oor die kolostomie-sakkie, het die dokters alles baie mooi aan hom verduidelik en hy aanvaar dit nou so,” sê Monique. Intussen dra gebede die gesin deur hul beproewing. Pastoor Gert sterk tans by Monique in Kemptonpark aan. Die Prinsloos se seun, Morné, wat onlangs Kaap toe getrek het, het intussen teruggevlieg om sy ouers ook by te staan.

Pastoor Gert se bediening het sowat sewe jaar gelede saamgesmelt met dié van pastoor Eben Delport, wat vandag saam met sy vrou Liandré die senior pastoriepaar is. Die Prinsloos is egter steeds baie betrokke by die gemeente. Tussendeur het hulle toere na Israel gelei, maar weens Pastoor Gert se siekte en die oorlog in die Midde-Ooste is dit voorlopig gestaak.
* Hoewel hy ‘n hospitaalplan het, beloop pastoor Gert se mediese uitgawes reeds derduisende rand. Omdat hy jonger as 65 is, sal hy ook self vir heelwat van die prosedurens by Baragwanath moet betaal. Die gesin vra hoofsaaklik vir voorbidding, maar enige geldelike bydraes sal ook hoog op prys gestel word. Enigiemand wat die gesin wil bystaan, kan ‘n inbetaling doen aan H.D. Prinsloo, Capitec-rekening 1655977782, takkode 470010.

Pastoor Gert Prinsloo en sy vrou Thea. Die egpaar bedank almal wat hulle op verskillende maniere onderskraag.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button