Herrie oor Sedibeng-burgemeester se duur ampsmotor
Die burgemeester van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit is wéér in ‘n herrie oor ‘n duur ampsmotor gewikkel.
SEDIBENG. – Die DA se hoof van die Emfuleni Noord-kiesafdeling, Kingsol Chabalala, sê die sukkelende Sedibeng Distriksmunisipaliteit moes sy begroting verhoog om vir die Sedibeng Distriksmunisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Lerato Maloka, ‘n luukse motor ter waarde van R700 000 te koop.
Dít terwyl die munisipaliteit uitdagings het om basiese dienste, soos toegang tot behoorlike sanitasie en geteerde paaie, ervaar.
Die inligting rakende Maloka se duur ampsmotor is in ‘n verslag wat tydens ‘n vergadering van die Sedibeng Dirstriksmunisipaliteit ter tafel gelê is bekend gemaak.

Volgens die verslag sal die munisipaliteit se kapitaalbestedingsbegroting vir die 2023/2024-boekjaar met R700 000 verhoog word om voorsiening te maak vir die burgemeester se voertuig omdat die hoëkoste-onderhoud van haar ou Mercedes en motorhuur te duur en onhaalbaar word om te onderhou.
Chabalala meen dié uitgawes is skokkend aangesien die munisipaliteit homself kniediep in ‘n finansiële krisis bevind en nie eers in staat is om konstante basiese dienste aan inwoners te lewer nie.
“Die munisipaliteit kan dit nie bekostig om geld te spandeer aan ‘n luukse voertuig wat onnodig en ‘n vermorsing van belastingbetalers se geld is nie,” meen Chabalala.
Dit is nie die eerste keer wat Maloka in ‘n herrie oor duur ampsmotors betrokke was nie.
In 2022 het die DA ontdek dat ‘n Mercedes-Benz GLB (X247) voertuig wat teen ‘n koste van R696 611.99 vir haar aangekoop het besig was om stof in die munisipaliteit se kantore te vergader toe sy glo geweier het om dit te gebruik , aangesien dit nie aan haar spesifikasies voldoen het nie.

Volgens Chabalala het dié einste voertuig gaan staan nadat ‘n vreemde stof soortgelyk aan suikerkorrels in die enjin gevind is. Dit het die munisipaliteit R398 000 gekos om te herstel.
Chabalala sê: “Die burgemeester het die Sedibeng Distriksmunisipaliteit, wat reeds op die rand van ineenstorting is, R140 000 aan voertuiguitgawes in minder as drie jaar gekos. Hierdie geld kon beter bestee geword het indien dit gebruik is om slaggatebelaaide paaie en swak sanitasie reg te maak, aangesien rou riool van die hoofrioolstelsel oor die strate vloei omdat die munisipaliteit versuim om rioollyne te herstel.”
“Die burgemeester moet haar prioriteite reg kry. Sy kan nie aanhou om haar eie belange bo die belange van die mense wat sy grondwetlik verplig is om te dien stel nie,” meen Chabalala.

Volgens Chabalala gaan die DA opvolgvrae aan die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradiisionele sake (COGTA), Mzi Khumalo, stuur oor die vreemde stof wat in die voertuig wat die burgemeester nie wou hê gevind is nie.
“Indien enigeen verantwoordelik is hiervoor moet hulle tot verantwoording gebring word,” sê Chabalala.
Volgens Chabalala sal die DA ook die LUR vra of dit kostedoetreffend was vir die munisipaliteit om ‘n nuwe voertuig vir die burgemeester te koop, in plaas van om die ou een reg te maak.
“Die Sedibeng Distriksmunisipaliteit se minagting van inwoners en hul dienslewering is onaanvaarbaar. Dit is tyd om die huidige regering te verwyder en te vervang met leiers wat daartoe verbind is om te dien en nie deur die mense van Gauteng gedien te word nie.”

