Local newsNews

Hendrik leer nou aanpas by sy ‘nuwe normaal’

Nadat hy die grootste deel van sy regterhand in 'n fratsongeluk verloor het, probeer Hendrik nou 'n inkomste verdien deur rekenaars reg te maak. Hy moet fisioterapie en veloorplantings ondergaan om hom 'n bietjie meer gebruik van sy hand te gee, maar kan dit nie nou bekostig nie.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Maand nadat Hendrik Swart (26) se regterhand in ‘n fratsongeluk deur ‘n rolsaag vermink is, sterk hy nou tuis aan en probeer aanpas by sy nuwe lewe met net een hand.
Hendrik was die oggend van 29 Januarie besig met houtwerk by sy ouerhuis in Mullerstuine, Vanderbijlpark, toe sy regterhand per ongeluk onder die saag beland het. Sy middelvinger is by die eerste lit afgesny en sy ringvinger by die onderste kneukel. Sy erg beseerde pinkie en duim moes later die dag tydens ‘n ongevalle-prosedure geamputeer word. Slegs sy wysvinger is ongeskonde. Daar was ook ‘n diep sny oor sy hele handpalm en al die senuwees is afgesny.

Omdat Hendrik se handpalm nie betyds geopereer is om die senuwees te probeer heg nie, het die senuwees afgesterf en het hy geen gevoel in die hand behou nie. Volgens sy ma, mev. mev. Daulina Swart, het Hendrik aanvanklik goeie behandeling van ‘n weermagdokter by die Sebokeng-hospitaal ontvang, maar die res van die behandeling het veel te wense oorgelaat. Sy wonde is in die opvolgende week nie behoorlik versorg nie en hy het opdrag by die verpleegpersoneel gekry om dit self met ‘n bietjie Savlon skoon te maak. Hoewel ‘n behulpsame dokter gereël het dat hy na die Chris Hani Barahwanath-hospitaal vervoer word vir verdere behandeling, moes hy daar hoor dat hulle niks vir hom kon doen nie. Hy is onverrigter sake teruggestuur Sebokeng toe.

Nadat skenkings van R4 000 van die publiek ontvang is, kon sy ouers hom by die Sebokeng-hospitaal uitteken en na ‘n private instansie neem, waar bevind is dat hy veloorplantings sal moet ondergaan en fisioterapie sal moet kry. Hendrik en sy ouers bedank almal wat hulle tot hier toe geldelik bygestaan het.
“Die skenkings wat ons ontvang het, is ongelukkig uitgeput deur die private mediese dienste. Sodra ons finansies dit toelaat, sal ons graag die verdere prosedures by ‘n privaathospitaal wil laat doen,” sê mev. Swart.

Hendrik, wat saam met sy gestremde pa tuinmeubels gemaak het vir ‘n inkomste, probeer nou gewoond raak aan sy “nuwe normaal” met net een hand. Hy het beplan om later vanjaar weer soos voorheen in die buiteland te gaan werk om geld vir sy gesin te verdien, maar omdat gestremdes nie oorweeg word nie, is dié moontlikheid nou van die baan. Hendrik is ook nie meer in staat om met die houtmasjinerie te werk en so ‘n inkomste te verdien nie. Om homself besig te hou, doen hy nou herstelwerk aan rekenaars en skootrekenaars.

“Die wonde herstel redelik mooi en ek het nie meer soveel pyn nie, maar dit is baie ongemaklik om net die gebruik van een hand te hê,” sê hy.
Enigiemand wat die gesin geldelik wil bystaan sodat Hendrik verdere behandeling en fisioterapie kan kry om hom ‘n bietjie meer gebruik van sy regterhand te gee, kan ‘n inbetaling maak aan D.G. Swart, Standard Bank, Rekeningnommer: 10199126982 (Spaar), Vaal Mall-tak.

Besoek sy Back a Buddy Blad hier: https://www.backabuddy.co.za/campaign/back-hendrik

Hendrik se beseerde hand soos dit tans lyk
Hendrik tydens een van sy tydperke wat hy in die buiteland by karnavalle gewerk het om ekstra geld vir sy gesin te verdien.

WAARSKUWING. – Die foto’s hier onder kan sensitiewe lesers ontstel. Dit is geneem kort na die fratsongeluk op 29 Januarie toe sy hand onder ‘n rolsaag beland het. Moenie verder afrol as jy nie foto’s van bloed en beserings wil sien nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hendrik se beseerde hand kort na die ongeluk
Hendrik se beseerde hand kort na die ongeluk

 

 

Back to top button