Local newsNews

Ma en baba sterf weens owerhede se gebrek aan aksie

'n Leseres vertel hartroerend oor haar en haar man se onlangse ervaring langs 'n ongelukstoneel.

 

Wanneer ‘n mens kyk na die statistiek oor ongelukke en sterftes op Suid-Afrikaanse paaie is dit net koue syfers… totdat jy langs ‘n ongelukstoneel staan en magteloos moet toekyk hoe mense sterf. In baie gevalle sou die beseerdes dalk kon bly leef het as daar betyds professionele hulp was. Met die agteruitgang van die staat se mediese dienste en ‘n Polisiediens wat enorme uitdagings in die gesig staar, kan mens nie meer aanvaar dat daar hulp uit dié oorde sal wees wanneer dit benodig word nie.

‘n Vaalweekbladleser, Caroline le Roux, het dié hartroerende verslag geskryf oor wat sy en haar man onlangs in die Vaaldriehoek beleef het.

Caroline le Roux skryf:
Waar begin mens om te sê hoe pateties ons polisie- en staatsambulanse is! Ons ry onlangs (2 Maart) omstreeks 20:20 van ‘n restaurant in Meyerton af huis toe. Ons ry verby ‘n ongelukstoneel waar ‘n mamma en haar baba pas deur ‘n taxi getref is.

Ons stop en omstanders vra of ons die nooddienste kan bel want die mamma was besig om uit te bloei. Die baba het agter haar gelê en albei het nog asemgehaal. Ons bel eers 911 maar vind toe uit ons moet 112 bel. Na ‘n ruk kom ons deur en ‘n onvriendelike vrou aan die ander kant antwoord. Na ‘n geruime tyd besluit sy uiteindelik dat ‘n ambulans uitgestuur sal word.

Ons praat op die toneel met ‘n vrou wat ‘n insittende van die taxi was. Sy vertel ons die taxi het gejaag en die ma vol van voor teen haar lyf getref, met haar baba van seker so een jaar, op haar rug. Ons probeer onsuksesvol om na die polisiestasie se foon deur te kom. Intussen begin die taxi so bietjie-vir-bietjie agteruitry op die ongelukstoneel.

Ons besluit om polisiestasie toe te ry om hulle oor die ongeluk in te lig en te vra om na die toneel uit te kom. Was ek stomgeslaan toe my man uit die stasie terugkom en my sê daar is nie ‘n polisiekar beskikbaar nie!

Ons ry terug en sien toevallig ‘n polisievoertuig langs die pad. Ons stop die beampte en vertel hom van die ongeluk wat minder as 2 km van daar af gebeur het. Nee, sê hy, hy kan nie gaan kyk nie want hy moet uitgaan vir ‘n “fire-arm response”. Toe ons omstreeks 22:20 teruggaan na die ongelukstoneel, het die ambulans pas daar gestop. Sonder om eers te kyk na die mamma en haar baba se toestand, begin hulle keëls uitpak in die pad, al lê die vrou en kind op die sypaadjie.
My man klim uit om te gaan kyk terwyl ek in die kar wag. Ek kyk agtertoe en sien hoe hulle die mamma en baba toegooi… albei het hul lewe verloor weens ons land se nalatigheid!

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button